TULIP en Die Ware Evangelie
Totale onvermoë dood in jou sonde
Uitverkies sonder voorwaardes
Lewe aflê vir Sy Skape Alleen
Innerlike onweerstaanbare genade
Preserveer vir ewig
Isa 53:11 Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.
Dit was Volbring en wat die God van die Kosmos gekom het om te doen, was Hy mee tevrede; dat diegene wat Hy regverdig wil maak, het Hy volkome regverdig gemaak. Nie een gaan verlore wat Hy in Sy ewige Raadsplan vir Sy Bruid kies nie. Sy plan was nie gefnuik deur enige van Sy skepsels nie, want Hy is nie in hulle hande nie maar hulle in Syne. Die vlekkelose Bruid is nie die een wat Jesus Christus nie geweet het wie dit gaan wees nie, en tot met die wederkoms eers, Sy versluierde een met verbasing sal aanskou nie. Nee, God weet wie is die Bruid, want Hy het hulle elkeen gekies voor die grondlegging van die wêreld af, om ʼn reine Bruid te hê, wat Hy vlekkeloos en heilig kom maak het.
Inleiding
Toe die wet daar was, was dit maklik om te verklaar hoekom sommige die ewige lewe beërwe en hoekom sommige deur die wet geoordeel word. Dit was wit of swart, hemel of hel, God se skaap of die duiwel se bok, verlore of gered deur die wet te gehoorsaam of die wet te oortree. Dan was dit jou skuld dat jy verlore gaan, of dit was jou goedheid en getrouheid wat jou die hemel laat beërwe, “getroue dienskneg kom staan hier by die skape, ontroue gaan na die ewige verderf voorberei vir die duiwel en sy engele”. Nie dat die wet enigeen gered het nie. Die nuwe evangelie is nie veel anders in sy sienswyse nie, jy gehoorsaam die “wet” van “keuse maak”.
Die toekoms in die vrye genade
Nou hoe verklaar ons die toekoms van die mens nou; vandat die vrye genade gekom het? Hoe verduidelik ons nou dat die een verdien om hemel toe te gaan en die ander een verdien om hel toe te gaan want die speelveld het verander in die opsig dat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Christus het nou vir die mens die wet gehou en getrou en gehoorsaam geleef omrede geen mens is gevind wat daardie wet kan hou om die ewige lewe te verdien nie. Adam, ons verteenwoordiger kon dit nie doen nie al het hy ietwat van ʼn voordeel gehad in die sin dat hy die eersteling was met integriteit en met die moontlikheid om te sondig. Daar was dan ook die ergste straf op die oortreding van daardie wet geplaas, maar nogtans het die mens dit oortree. God het geweet niemand kan dit gehoorsaam nie, maar het nie Sy wette versag sodat ons dit kan hou nie, God het ook nie goedsmoeds vergeef nie maar die Regter moes die straf uitvoer wat die wet vereis, want God is heilig en regeer oor die kosmos, daarom het God dit self in Jesus Christus, die tweede Adam vir sommige (ʼn oorblyfsel, Rom_11:5 Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd ‘n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die genade.) volkome kom hou en die straf dan ook verduur wat ons moes verduur het.
Nou is die vraag, het God dit vir almal voor die voet gedoen?, nee, omrede ons weet dat sommige hel toe gaan en sommige gered word. Daar moet dan ʼn ander verklaring daarvoor wees dat daar nie universele verlossing is nie. Hoe verduidelik ons menslik dat die een verdien om hemel toe te gaan en die ander verdien om hel toe te gaan. Dit is maklik weer as ons die wet gebruik, die werke, die een gebruik sy self vertroue om ʼn keuse te maak, of redeneer dat daar iets goeds in hom is wat God vooruit gesien het dat God hom om daardie rede gekies het, of dat God vooruit gesien het wat hy gaan kies en hom so gekies het op grond van God se al sienendheid. Die verklaring van die sienswyse van die nuwe evangelie is dat Predestinasie geskied dan op gronde van vooruit sienend die keuse wat die mens gaan maak. Kyk, predestinasie is in die Bybel, so op een of ander manier moet die nuwe evangelie so ʼn onskriftuurlike definisie opdis. Dit is maar weer die wet gebruik om dit maklik te maak vir die mens om te verstaan hoekom God so op tree. Die een het gekies vir God of die Hemel, en die ander gekies want hy wil nie by God wees nie. Dus is elkeen op die pad wat hy deur sy eie werk of wil gekies het en sodoende sy bestemming verseker uit sy voorkeur. Die dilemma is; ons word nie deur enige werke of op meriete gered nie, hoe subtiel ook al, self-keuse is werk.
Die nuwe evangelie, of die vrye wil evangelie beweer dat die Gereformeerde sienswyse van versoening slegs vir diegene is wat tot bekering kom, of, slegs vir uitverkorenes, dat dit druis in teen die mens se idee van regverdigheid en dan vra hulle die vraag. “Wat se soort liefde is hierdie” klink dit vir my, ʼn sarkastiese vraag? Diegene dink dat hulle die vraag stel aan die 700 geleerde Christen afgevaardigdes van Dort in 1618-1620 wat hierdie [idee] van vrye-wilisme, skriftuurlik verkeerd bewys het. Die vraag word egter aan God gestel: “Wat se soort liefde is hierdie.”
Kom ek probeer dit antwoord, dat dit ware liefde is wat werklik red vir wie die versoening moontlik gemaak is.
Hoe moet God, humanisties gesproke regverdig wees in die mens se oë?
Dit gaan alles vir die mens oor regverdigheid, hy wil hê God moet regverdig optree om so God vir homself logies te maak. Maar die dilemma is: dat as God regverdig moet wees in Sy verlossing vir die mens, indien almal nou nie universeel tot bekering kom nie, dan moet God, volgens die sondige mens, almal oor die selfde kam skeer. Almal dieselfde kans gee, almal wanneer die evangelie gepreek word, dieselfde openbaring en geloof gee met die hoor van die evangelie, en dit is om die algehele mensdom die lig te gee, dat God in Jesus Christus die mens die ewige lewe aanbied, Jesus in God se arms hou vir die mens as Sy verlosser sodat die mens ʼn ingeligte besluit kan maak wat hom sodoende dan die skuld kan gee indien hy die Christus verwerp of aanneem. Dan sal ek ook sê, “gaan na die hel” jy, wat so ʼn Verlosser verwerp en dit is gevolglik dan oor en oor sy skuld dat hy vir ewig in die hel, wat hy gesien het (God was regverdig en het hom dit laat sien) en tog waansinnig gekies het vir die ewige verderf. So sien die nuwe evangelie die liefde van God; so moet hy dit sien as hy eerlik is, as ʼn regverdige kans vir almal met ʼn vrye wil om te kies uit jou voorkeur, en die voorkeur na so ʼn algemene regverdige openbaring, sal wees vir dit wat die meeste voordeel inhou, en die keuse is dan logies vir Jesus Christus.
Maar, dit kan nie so wees nie en daar moet ʼn ander rede voor wees dat sommige die hel kies want almal gaan nie hemel toe nie. Almal kon nie dieselfde openbaring gekry het en die geloof om te kan glo nie. Ek praat nou mensliker wys, want dit is soos my broer die Arminiaan praat, so ek moet op sy vlak kommunikeer want die Skrif het weinig nut vir hom om hom te oortuig. Wie, wie, na hy die openbaring gekry het dat hy op pad hel toe is, (want God moet nou om regverdig te wees almal wys dat hy gaan brand vir ewig), wie gaan nou nie sy hand uitsteek na sy Redder toe nie, wie gaan nou vir die hel kies? Weereens menslik gesproke, niemand nie, almal gaan vir die wonderlike Jesus Christus kies wat jou Redder uit die vuur is, en niemand maar niemand gaan vir die hel kies na so ʼn openbaring van Jesus Christus nie.
Maar tog weet ons dat sommige hel toe gaan, as dit dan nie uit die vrye keuse is nadat hulle die evangelie begryp het nie, van ʼn “regverdige God” nie, en tog hel toe gaan, wat is die rede dan, aangesien dit logies is dat die vrye keuse almal sal red want niemand sal dan verlore gaan nie, want almal sal kies vir hulle Redder en niemand vir die hel nie? Dit sal dan ook universele verlossing moet wees wat die nuwe evangelie sienswyse tog verwerp. Arminiaan, jy moet nou by jou dogma gestand bly want jy sê mos dat ʼn God van liefde niemand doelbewus sal laat in sy dood wat hy verdien nie, “wat se soort liefde is hierdie”, vra die Promoveerders die vraag, nie aan Calvyn nie, maar aan God?
Indien God sommige kies vir die ewige lewe en dit is in God se hande, waarom gaan daar dan mense nog hel toe? Jou God van liefde sal nooit wil hê dat iemand hel toe gaan nie en sy uiterste bes doen dat almal die ewige lewe beërwe. Natuurlik sal jy sê, maar God doen sy uiterste bes maar die mens het ʼn vrye wil om vir die hemel of die hel te kies. My redenasie met jou nuwe evangelie sê: dat almal gered moet word met die keuse wat in der waarheid eintlik nie meer ʼn keuse is nie want daar is net een keuse na ʼn regverdige openbaring, wat eintlik ʼn gebonde wil is en dit is om saam met jou Redder te gaan. Ons weet dat die meerderheid hel toe gaan, so dan is universele verlossing uit die prentjie asook die nuwe evangelie van vrye wil en keuse. Wat maak God hulpeloos en onderdanig aan jou keuse en kan niks doen om jou te red nie, en volgens die nuwe evangelie wil hy jou red? Is dit omrede Hy ʼn gentleman is?
Nog ʼn vraag wat ek wil vra: op watter gronde gaan diegene dan hel toe? Die Arminiaan kan net sê dat dit sy eie keuse is met die openbaring of dan; moontlik het God nie vir almal die openbaring gegee nie en dan menslik gesproke is ons weer by die begin dat die nuwe evangelie dit as onregverdig sal beskou. ʼn Bose kringloop van ons gesprek. Ons kan tot vervelens toe debatteer oor hierdie gewigtige saak. Die Arminiaan sal nou sê: dat die mens is rebels en party meer as ander en wil graag die duiwel se kind bly want dit is te lekker daar, maar dan kan ek weer die teenargument gee: dat almal is sondig almal hou van sonde en die mens is van nature sondig en haat God deur die bank maar tog met so ʼn openbaring waarna jy op pad is dan sal jy tog die ewige lewe kies.
Daardie openbaring is kragtig genoeg om die grootste sondaar te verlos en God se liefde sal dit kragtig genoeg maak vir die grootste van sondaars soos vir Paulus. As God wou, dan sou almal gered word. God se liefde soos die nuwe evangelie dit sien maak ʼn universele verlossing nie net moontlik nie maar die uiteindelike realiteit. Ons sal nie die saak oplos deur heen en weer te argumenteer nie. Wat die nuwe evangelie dan eintlik sê is dat: Jesus Christus staan verlore en magteloos om te sien: daar gaan die een wat Hy graag in die hemel wil hê.
Hier is dan twee gevolgtrekkings wat ons moet maak. Verlossing is nie universeel nie, dit is ook nie uit vrye wil en keuse nie volgens ʼn regverdige God wat dit vir almal beskikbaar gemaak het en vir almal dieselfde openbaring gegee het nie. Nou wat is die antwoord dan? Definitief nie menslike logika nie, en daar bly net een oplossing oor en dit is; wat sê die Skrif.
Die genade verbond bevestig God se soewereine uitverkiesing,
Daar is egter ʼn ander rede daarvoor en dit is eenvoudig wat die Bybel vir ons vertel en nie die menslike logika nie. As selfs menslike logika vir jou wys dat daar ʼn ander rede moet wees dat mense in die hel hom bevind en dit is eenvoudig die totale onbeholpe, hulpelose, onvermoënde desperate mens wat net een voorkeur het nadat die Boom van die lewe vir hom verborge en ontoeganklik is en dit is om in sy toestand te bly van geestelike dood vir God. Gebonde in sy gewillige sondesmet en sondig, lief vir die duister, haat die lig en haat God van sy natuur af, kan nie sy natuur meer verander nie.
Net God kan die onmoontlike doen, net ʼn Goddelike eensydige werk van ʼn eensydige verbonds God wat nie van die mens ʼn vereiste stel om daardie verbond te hou nie, want dit is ʼn genade verbond en nie ʼn werksverbond nie. Die verbond aan Noag, God sal die reënboog daar stel om Hom te herinner dat Hy die mens sal genadig wees, die verbond aan Abraham wat aan die slaap was, en God het gesê dat as God self nie die verbond hou nie sal Hy sterwe. Abraham het geen werk gehad of keuse om die verbond te hou nie, dit was eensydig. Prof. John Murray sê: “dat daar is nie die geringste aanwysing dat die effek van die verbond kan deur menslike ontrouheid onbenul verklaar word nie, of die seëning verloor deur ongeloof nie; die gedagte om die verbond te breek, is ongehoord. In een woord die belofte is onvoorwaardelik.” http://www.the-highway.com/Covenant_Murray.html
Die verbond met Abraham: Die verbond gee nie sy seëninge aan almal sonder uitsondering nie. Die uitsondering wat die verbond uitlig, bevestig die beloftes en benadruk die soewereinheid van God en die uitvoering en plasing van sy genade en die vervulling van beloftes.”
Net so, Arminiane, is die nuwe verbond nie sonder uitsondering en voorwaardelik nie, maar onvoorwaardelik en met uitsondering.
Wat van diegene wat buite bereik was van die Evangelie?
Nou wat van die wat nie die evangelie gehoor het nie, soos die in Fiji voordat die sendeling James Baker gekom het wat hulle eers opgeëet het en net sy skoen in die museum nog te sien is, word hulle geoordeel of verlos weens die lig wat hulle het? Preek die Gees van Jesus Christus vir hulle sonder dat die mens die evangelie bring? Word hulle gered wanneer hulle, hul voorvaarders se wette gehoorsaam het? Of soos die mens inherente goedheid besit. Om al die vrae te antwoord sal ons geestelik versteurd maak om al God se verborgenhede wat Hy net gedeeltelik openbaar te verstaan. Kom ons gaan terug na die Fijiaan wat mensvleis geëet het, sy naam was Goro Goro en het ʼn gedokumenteerde 800 mense geëet. Hoe word hy regverdiglik geoordeel? Volgens Romeine 2 het niemand ʼn verskoning wat verderf toe gaan nie want die natuur wette, sy gewete, sy lig wat hy het oordeel hom, maar hoe word hy gered, deur genade alleen is al wat ons skriftuurlik kan sê, en die res vir die Groot Regter oorlaat op Oordeels dag.
Ons moet ons berus by God se Raad, dat God die vrye genade vir sommige gee wat vooruitbestem is en vir ander in sy verdiende loon laat, so eenvoudig soos dit. Dit is wat Romeine 9 leer, dit is wat skrif na skrif vir ons verduidelik, so moet ons dit aanvaar dat voor jy gebore was, voordat God gesien het dat jy gaan sy taak beter uitvoer, of vooruit gesien het wat jy gaan kies en jou so gepredestineer het, nee, sê God, nog voor jy goed of kwaad gedoen het, sonder enige meriete, inteendeel van die grootste sondaars, indien daar so iets kan wees, kies God jou sonder verdienste om Sy Naam te verheerlik sodat niemand, niemand kan roem dat hy ʼn bydrae kon maak by sy saligheid nie, alleen of in samewerking met God nie, hoe subtiel ook al kon doen nie.
Op wat se ouderdom gaan jy hel toe as jy “jouself” nie bekeer het nie?
Gereformeerdheid antwoord al die vrae en is die Skrif se antwoord en die prikkels waarteen ons skop, sal skop en nog altyd geskop het. Dit is ook die antwoord op: wanneer is die babas en jong mense verantwoordelik vir jou keuse, op watter ouderdom? Wanneer is jy oud genoeg om jou te bekeer, of ʼn keuse te maak?, ouers druk hulle kinders om ʼn besluit te maak en gedoop te word en menigte sterwe nog voordat hulle ʼn keuse kon gemaak het, of doen ʼn gebed en laat jou doop, maar dit red jou nie. Dit is waar gereformeerdheid die vredevolle antwoord het. Daar is niks wat jy as volwassene uit jouself kan doen om gered te word nie-God kan verseker dieselfde gawes vir ʼn kind gee, die oomblik van bevrugting. Kinders wat hemel toe gaan is nie onskuldig nie, maar ontvangers van God se genade. Dit is wonderlike goeie nuus. Dat jy nie hoef bekommerd te wees dat jou kind nie ʼn kans gehad het om te bekeer nie, en dat hy nie gedoop was nie. Verlossing is totaal van God. Dank God dat ons hoef niks by te dra nie.
Daar is geen ouderdom van verantwoordbaarheid nie. Dit sou beteken dat verlossing is in ons hande, en dit is slegte nuus, want dan is dit moontlik dat van ons kinders verlore is, want hulle het hulle nog nie bekeer nie. Verlossing is ʼn vrye gawe wat God uitdeel vir wie hy wil en goeddunk, insluitende, ek is seker babas in die baarmoeder. Ons kan as Christen ouers ten volle verwag om hulle in die hemel te sien. Net soos Dawid se eerste maar buite egtelike kind by Betseba se dood, was Dawid tog verseker dat sy kind by God is, in 2 Sam. 12,…”ek sal na hom toe gaan”. Die tweede kind was Salomo, is God nie genadig dat Hy nie met ons handel volgens ons sonde nie. Dawid was ʼn kind van God, “neem nie U heilige Gees van my weg nie. Gee my weer die vreugde van U heil”
Gereformeerdheid het die Skriftuurlike antwoord vir die vrae. Vrye-Wilisme het nie Skriftuurlike antwoorde nie. Hulle kan nie sê of hulle kind van ses jaar oud hemel toe is nie want hy het nie tot bekering gekom nie en die sondaars gebedjie gedoen nie. Wanneer hulle sê dat die Koninkryk van die hemele behoort aan die kindertjies neem hulle die Skrif weer uit verband uit want Christus het bedoel die kinders van God, wat soos kindertjies is, is Sy kinders. Wat van as hy sestien jaar oud is en nog rebels is en nie ʼn besluit geneem het nie, is hy dan verlore? Die arme ouers wat geen sekerheid ooit sal hê indien hulle vasklou aan Vrye-Wilisme nie.
Hoekom nog ʼn skrywe oor die Vyf Punte van Dort?
Vir die eenvoudige rede dat gereformeerdheid is nie meer gereformeerd nie. Ons het juis van die Charismatiese religie afstand gedoen om te beweeg na die Skriftuurlike verfyning van ons teologie. Noudat ons die soetheid van die waarheid ervaar het (wat ons nog altyd gehad het, maar nie effektief geleer is nie) en ʼn kampvegter raak vir die ware oue evangelie nou vind ons baie reformatore nie meer in die kamp van ware evangelie nie.
Dit is ʼn groot skok as jy Die Groot Christelike Woordeboek lees van Adrio König en sien hoe hy sy eie idees en nie die Bybelse definisies gebruik nie. Oor die Vyf Punte het Adrio König weinig te sê en wanneer hy die vyf punte bespreek dan bevraagteken hy God se ware evangelie asof daar iets mee fout is. Geen wonder hy sê ook dat God verbaas was toe die vliegtuie in die Twin Towers vas vlieg nie. In König se hand is God hulpeloos en van die troon af net soos hy die mens dan sien as op die troon en God hulpeloos toekyk hoedat die mens soewerein is in sy dade en in sy keuse. König moet soos baie gereformeerdes intelligent vir die wêreld voorkom asook die Christene wat ʼn vertikale skepping en ʼn horisontale evolusie aanhang. Dit genoeg gesê van die man wat uit God se hande is met sy verwronge mensgemaakte teologie.
Die Menslike Nuwe Evangelie Sienswyse Oor God
Aangesien die mneumonie, TULIP, die algemene naam is vir die Vyf Punte van Dort, wat die antitese is, asook ʼn antwoord van die dwaalleer wat die Vyf Punte van die Remonstrants verteenwoordig, wat Jakob Harmenzoon van Oude Water, (sy Latynse naam Arminius), van sy Patriarg Palagius laat herleef het, verduidelik ons die Afrikaanse terme daarvan. Daar word hoofsaaklik gebruik gemaak van JI Packer se beskrywing van hoe John Owen se onbetwisbare verduideliking van die ware evangelie; soos die Skrif dit weergee beskou.
Daar moet nadruk gelê word op die feit dat die afwatering van skriftuurlike dogma die evangelie meer humanisties probeer maak het, God in ʼn meer aanvaarbare lig vir menslike logika probeer stel het, maar daarvolgens ʼn nuwe evangelie daar gestel het wat soos dag en nag, soos hel en hemel, soos heilig en onheilig van die Heilige Skrif verskil. Dit was mooi vir die mens want dit het hom weer terug in die Paradys geplaas waar hy nog ʼn vrye wil gehad het om ʼn boom te kies. Hy is nou weer met Arminianisme in ʼn skyntoestand van status integriteit soos Eva en word weer in sy oor gefluister dat hy soos God kan wees, dat hy kan God op sy vlak plaas deur op die troon te sit en sodoende kaptein te wees van sy eie siel, meester van sy lot. Hy het sy lot gevind in Arminianisme en is nou meester van sy lot, sy lot is egter ewige dood in sy strewe na onafhanklikheid van God.
Nou het die Arminiaan dit, hy kan God weerstaan, hy kan sy eie heil uitwerk want hy dink hy is in die skyn status intergritatis soos Adam en Eva. Kry jy nie skaam nie? Jer 6:15 (NAS) “Were they ashamed because of the abomination they have done? They were not even ashamed at all; They did not even know how to blush
Maar O Wee, sy toestand is nie met integriteit sodat hy ʼn keuse kan maak nie, want hy is dood, daar is nie ʼn greintjie goedheid in hom oor om enigsins na God toe kan uitreik nie. Hy is in ʼn toestand van totale onvermoë om iets te doen aan sy totale toestand van verdorwenheid. Dit is hom in elk geval verbied en nie beskore om in die toestand wat hy is, van die Boom van Lewe te geniet nie, want hy is uitgewerp uit die Paradys mits hy ook van daardie Boom, Jesus Christus gaan gebruik. Gen 3….met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak. Jy kan slegs nou van daardie Boom eet as daardie vloek weggeneem word in Jesus Christus wat die vloek geword het en jy uitgenooi word na die Bruilofsfees van die Lam van God, (Boom van Lewe) en van sy vlees eet en bloed drink. Jy dink nog Eva-gelies en nie Evangelies nie.
Daar is genoeg lig vir diegene wat slegs wil sien, en genoeg duister vir diegene wat nie wil sien nie. Daar is genoeg verligting om die uitverkorene te laat sien en genoeg donkerheid om hom nederig te hou. Daar is genoeg donkerheid om die ongelowige blind te laat en genoeg lig om hulle te oordeel en sonder verskoning te laat. (Bavinck Dogmatiek)
Weerspreek Bavinck wat ons hier probeer verduidelik van totale verdorwenheid, nee, dit verduidelik dat die mens weet van lig as in God se ewebeeld geskape, die kennis daarvan verloor jy nie, maar jy is blind gelaat omrede jy die ewebeeld so besoedel het dat God in jou gewete, dit laat sterwe het, en net God kan dit weer vernuwe uit genade sodat jy die verligting kan ervaar. Jy kry geloof sodat jy kan glo, dit is dan jou daad, of jy kry nie geloof nie en bly in ongeloof sodat jy nie glo nie en dit is jou daad wat jou verdoem. Dit is jou lot en ook jou skuld. Meer kan en hoef ons nie te weet van God se werking nie, ons kan net die lig wat die Skrif ons openbaar aanvaar of nie aanvaar nie.
Wie is die Mens en wie is God
Die Arminianis besef nie wat “dood in jou sonde,” werklik is nie, dat dit jou in ʼn algehele wanhopige, desperate, hulpelose kreatuur maak sonder enige goed in jou nou of vir ewig want jy is verdoem, in die graf van ʼn dodesel in afwagting op jou doodsvonnis wat jy verdien. Om te dink jy kan nog ʼn besluit neem teen die lot, wat jou skuld is, is maar weereens die mensgesentreerde logika wat eenvoudig sonde is. Dit is nie soos God hom openbaar nie, en ʼn valse menslike redenerende sienswyse want hy kan nie sê hoe God moet wees en optree nie. Jy kan nie God uitpluis nie, Hy is kosmies verhewe, Sy denke en dade en Sy Raad.
Nieteenstaande dat die Skrif verklaar dat God ʼn God van liefde is, dat Hy regverdig is maar dat God ook ʼn God van Wraak wat moet straf want God het kosmiese wette gemaak as alleenheerser, as soewereine wetgewer en weens die afgryslikheid van sonde wat die kosmos in duisterheid gedompel het, die hoogste straf van ʼn ewige verwerping van God daarop geplaas het. Dit het dan ook om daardie kosmiese sonde te verlos het dit ook ʼn kosmiese daad geverg dat God uit sy liefde die mens se vlees deel geword het, volle mens, met mense bloed in Sy are, wat alleen ter helle neerdaling geverg het, op hierdie sondige aarde, gebore uit ʼn sondige mens maar nog volle God.
Hy wat die mens geskape het moet melk drink om groot te word, moet vlug na Egipte, moet vervolg word en dan verneder word in Sy onskuld, Sy heilige lewe, Sy gehoorsaamheid aan die wet van God het Hom die Kandidaat gemaak om as vlekkelose Lam van God vir die mens se sondesmet, se sondige natuur, se ewige straf, sy skuldbrief teen hom, sy aanklag deur die duiwel teen die mens, te betaal deur self die straf te ondergaan, God, as mens het gebloei, het elke hou gevoel, elke snak na asem op die Kruisberg en gesterwe. Hy het die ewige straf van die mens uitgehou tot die dood, as plaasvervanger gely wat die mens moes verdien. Hy het nie nodig gehad om dit te doen nie, die mens is dit nie werd nie, maar tog wil God ʼn waardige, heilige, gehoorsame volk hê, ʼn skape van Sy weide, ʼn Gemeenskap, wat Sy tempel kan wees, wat Sy liggaam kan wees, broers en susters kan hê, nie dat hy dit nodig het nie, maar Sy eie vrye wil beveel God dat Sy lig moet skyn in sommige uit die dooies om hulle te vernuwe, om ewige vlees aan die geraamtes te sit, om hulle weer oë en ore en ʼn hart van vlees te gee, en so bou God ʼn nuwe volk uit die dooies.
Dit is nie anders as wat God die wêreld se mense vernietig het in die Vloed nie om sodoende met uitverkorenes in die lewe te bewaar volgens Sy goeddunke. Hy het volle seggenskap oor wie en wanneer Hy dit wil doen want Hy het hulle gekoop met Sy bloed, die enigste manier vir vergiffenis van sonde. Dit was God se plan, sy misterieuse plan dat bloed moes vloei, dit maak nie sin vir die mens nie, so maak God se keuse nie sin vir die mens nie, dit maak nie sin vir die menslike redenasie hoe God moet regverdig wees nie. Die mens kan dit nie uitredeneer nie, hy moet aanvaar wat God homself gedeeltelik openbaar en moet nie sy eie teologie maak hoe hy dink God moet optree nie.
Jy bly sondig mens en sal altyd God se wil kritiseer, dit is maar sondige natuur waarvan jy nie kan ontslae raak nie. Jy kan nie kies om heilige te lewe en al God se gebooie hou nie, net so min kan jy kies om lid te word van die familie van God. Hou op om mens te dink, en dink daaraan wat daarbo vir ons gesê word. Vergeet van jou vooropgestelde idees wat die sondige mens jou leer, en jy volg ʼn sondaar mens wat op sigself sonde is. Indien jy die een is wat tog verlos is en vergiffenis gesmaak het, maar nog klou jy vas aan jou verkeerde menslike denkwyse dat jy lewend genoeg was om ʼn keuse vir God te gemaak het, het God jou sonde vergewe van ʼn dwaalleer en mistasting dat jy dink dat jy ʼn bydrae gemaak het aan jou verlossing, maar nou is die tyd om weer te kyk na hoe en wat jy glo en waarom jy so glo en doodeenvoudig jou sonde bely dat jy op jouself vertrou het.
Waar Begin Ek?
Begin by die soewereinheid van God, die almagtige, die kosmiese heerser wat bo alles troon, veral oor die nietige sondige mens. Jy kan hom nooit weerstaan nie, jy kan Sy werk in die mens nie weerstaan nie, jy kan nie Sy werk, Sy keuse kritiseer nie. Jy is totaal hulpeloos in Sy hande en sal nooit iets goeds doen, of iets goeds besluit om Sy almagtige hand te beweeg nie. Daar is geen voorwaardes vir Sy keuse nie. Dit is erg vir die mens om in so ʼn toestand te wees, dit verbrokkel sy selfbeeld, vernietig sy self vertroue, hy wil maar meester wees van sy lot en kaptein van sy siel, van nature wil die mens God beheer en in sy natuurlike rebellie weerstaan. Afgesien van die sondige natuur roep God nog met liefde daardie mens met sy sondige idees, sy dwaalleer, sy misverstand, en wederbaar hom uit die dood, sodat hy kan sien, hoor en glo, en uitroep na God in berou dat hy so menslik was, dat hy so menslik is, God so verlaag het na sy vlak. Dit is die ware evangelie dat die mens hulpeloos dood is en dat God red jou sonder voorwaardes en meriete, en dat verlossing is algeheel van God en niks kan die mens bydra nie, veral nie vir God ʼn keuse maak nie.
Lyding vir Sy skape alleen, John Owen se bydrae met addisionele verduidelikings.
Wat leer die Skrif van die versoenings daad van ons Verlosser, wat het God daardeur bereik? Dit is ʼn verklaring van die verlossing en versoening wat in die bloed van Christus is; met die werke daarvan wat godsvrede daarby volbring het.
Maar, wat is die natuur en die omvang van Sy verlossings werk; wat sê die Skrif? Was dit ʼn algemene boetedoening wat deur Christus vir ieder en elke een betaal het?
Indien dit geoffer was om sommige te red wat uiteindelik verlore gaan, dan kon dit nie ʼn transaksie gewees het nie wat die eintlike redding van al die vir wie dit ontwerp was beveilig het nie. Maar sê Owen: dat dit presies die tipe van transaksie was wat die Bybel gesê het dit was. Dat dit juis ontwerp was om om die redding van sommige te verseker en beveilig. Soos ons voorheen gesê het; dat indien dit vir almal was, verseker dit nie een se redding nie, want dit is aan almal se keuse dan onderworpe, en dan is selfs God volgens die dogma nie verseker dat een verlos sal word nie. Net soos die Fariseërs die koninkryk aangebied was en hulle het die verlossing verwerp, en toe is die magtelose Christus (volgens Hagee, Malan, se “Uitstel teorie”) verplig om na ʼn tweede plan te gaan, die van die kruisiging en die koninkryk uit te stel na ʼn ander tydperk. Hierdie denkwyse het God weer in die mens se hande gelaat en ʼn ander euwel tot gevolg hê, dit van die uitstel teorie van Darby,Scofield, Walvoord, Hagee, Hunt, Malan, wat ʼn tweede verlossingsplan nou vir die Jode moet opdis, die van die Wegraping en duisendjarige vrederyk met koning Dawid en koning Jesus op dieselfde troon.
Nee, die Verlosser se dood red werklik Sy mense, nie moontlik alle mense nie, soos dit bedoel was om te doen deur die Skepper wie se plan nie gefnuik kan word nie.
Christus se verlossings werk is effektief en dit sluit die wat verlore gaan uit, aan die ander kant, dat indien dit bedoel was om universele verlossing te wees, dat of sal almal gered word (wat die Skrif ontken en die voorstanders van die “algemene losprys” nie bekragtig nie), of anders het die Vader en die Seun misluk om te doen wat hulle beplan het om te doen-wat se bewering vir ons blyk te wees dat dit godslasterlik en krenkend is vir die wysheid, krag en perfeksie van God, asook vernederend vir die waarde en voortreflikheid van die dood van Christus.
Daar is drie klasse tekste wat doelbewus mistastend en verdraai is om te beweer dat dit bewys dat Christus gesterwe het vir persone wat nie gered sal word nie (daardie skrifte wat sê dat Christus vir die “wêreld gesterf het,” “almal”, en die beskouing dat die wat verlore gaan ingesluit is vir diegene wat Jesus Christus voor gesterf het. Goeie hermeneutiese beginsels weerspreek dit dat die Skrif ooit so iets leer, en verder dat die teologiese gevolgtrekkings wat veronderstel is om universele verlossing te vestig regtig baie misleidend is.
Die ware evangeliese evaluasie dat Christus vir elke mens gesterwe het, selfs die wat verlore gaan in soverre dit God se liefde verheerlik die liefde en genade van God veroorsaak hierdie sienswyse dat dit God onteer en dit verlaag God se liefde tot ʼn onvrugbare wens en draai die hele beginsel van reddende genade in ʼn monumentale mislukking. Dit maak ook die werk en waarde van Christus se dood goedkoop en dat Christus tevergeefs gesterf het, in plaas daarvan dat dit verheerlik word. Dit laat die hoop vervaag, en bring nie addisionele bemoediging in die geloof nie, omrede dit die Skriftuurlik gronde van versekering van saligheid ontken dat die kennis; dat Christus vir my gesterwe het, is voldoende grond om my ewige verlossing te verseker, verlossing, in hierdie sienswyse, hang dit nie af wat Christus vir my gedoen het nie maar wat ek daaropvolgend vir myself gaan doen.
Hierdie misleidende dogma neem dus van God se liefde en Christus se verlossing die eer wat die Skrif daaraan gee weg, en stel ʼn anti-skriftuurlike beginsel van self-redding voor terwyl die Bybel uitdruklik verklaar: “nie van werke nie, sodat geeneen kan roem nie,” Ef.2:9. Jy kan nie jou brood al twee kante gebotter hê nie: ʼn verlossing van universele omvang is ʼn waarde vermindering, ʼn minagtende versoening. Dit het sy reddende krag verloor; dit laat ons in ons eie hande om ons te red. Dit maak nie saak hoe die Arminiaan teen die prikkels gaan skop teen hierdie die ware uitleg nie, ontbloting en gevolge van hulle godslasterlike dogma nie, dit is soos die Skrif, hulle misleiding onderskei.
Die doktrine van die algemene boetedoening moet verwerp word as ʼn griewende fout in teenstelling met die beperkte versoening wat beide die Bybel en alle eer aan God gee. Dit verhoog Christus, want dit leer dat Christene glorie in Sy Kruis alleen, en sodoende voed hulle, hulle hoop en versekering slegs van die dood en intersessie van hulle VERLOSSER. Dit is in ander woorde, ware Evangelisties. Dit is inderdaad die evangelie van God en die katolieke Geloof.
Niemand kan hierdie ware sienswyse verkeerd bewys nie, en niemand het nog nie. Dit is nie ʼn monster van Calvyn se logika nie, maar dit is die tradisionele logika van God wat Pauline teologie verduidelik, waarvandaan ons dit kry. Arminianisme kom daarna met hulle menslike logika om God regverdig in hulle bejammerendswaardige redenasie te maak en volg die doktrine van die mens, Palagius en Arminius. Owen het bewys, skrif na skrif dat dit deel is van uniforme Bybelse lering en voorstelling van verlossing, en wanneer jy Owen se skrywe lees wat nog niemand ooit die waarheid daarvan kon teenstaan nie, sal jy geen verdere dispuut hê nie.
Waar kom so ʼn dogma vandaan?
Ons kan nou egter sien waar hierdie mistastende dogma vandaan kom, wat het verkeerd gegaan, ons teologie van ons taal van ons geloof oor God is verlaag na die humanisme en ons kan dit nie eers meer insien nie. Ons verstand is gekondisioneer om aan die Kruis te dink; as ʼn verlossing wat minder doen as verlos, en van Christus as ʼn Redder wat minder doen as Red, en van God se liefde as swakke minsaamheid wat niemand kan weerhou van die hel sonder hulp nie, en ʼn geloof as ʼn menslike hulpmiddel wat God benodig vir sy doel. Die resultaat is, dat ons is nie langer vry om in die evangelie te glo of te preek nie. Ons kan dit nie glo nie, omrede ons gedagtes is gevange in die werke van sinergisme (samewerking). Ons word gedruk met die Arminiaanse idee dat as geloof en ongeloof verantwoordelike dade moet wees, dan moet hulle onafhanklike aksies wees; die gevolg is dat ons is nie vry om te glo dat ons geheel en al gered word deur goddelike genade en deur ʼn geloof wat op sig self ʼn genade gawe is en wat van Kruisberg af vloei nie. Ons raak self betrokke in ʼn verwarrende tipe dubbele-denkende verlossing, ons vertel onsself in die een moment dat alles hang van God af en die volgende oomblik dat alles hang van onsself af. Dit resultaat van die swaksinnige besoedeling neem baie van God se glorie weg wat ons Hom moet gee as die outeur en beëindiger van ons geloof en beroof ons baie van die vrede wat ons kon gekry het dat ons weet dat God vir ons is.
Wanneer ons die evangelie preek, maak ons valse vooropgestelde idees, dat ons die teenoorgestelde sê wat ons bedoel. Ons wil verkondig dat Christus die Verlosser is; maar ons eindig op om te sê dat Christus verlossing vir ons moontlik gemaak het, maar dit oorgelaat het aan ons om ons eie redders te word. Dit kom so oor, dit kom so oor. Ons wil die reddende genade van God en die verlossings krag van Christus verheerlik. So dan verklaar ons dat God se verlossings liefde na elke mens toe gaan, en dat Christus gesterf het om elke mens te red, en ons verklaar die glorie van goddelike genade word gemeet aan die feite. En dan, om universele verlossing te vermy (dat elke individu op die aarde verlossing kry) moet ons alles wat ons voorheen verkondig het minag, en dan verduidelik dat, na alles, dat God en Christus niks kon gedoen het om ons te red nie, behalwe as ons iets daarby voeg; die veroorsakende faktor dan wat ons eintlik red is ons eie geloof.
Wat dit op neerkom is dit: dat Christus ons red met ons hulp; en dat wat dit meen, wanneer ons dit oordink, is dit-dat ons onself red sonder Christus se hulp. Die is ʼn leë antiklimaks. Maar, indien ons begin om te bevestig dat God het ʼn verlossings liefde vir almal, en Christus ʼn verlossings dood vir almal gesterwe het, en universele verlossing verwerp, is daar niks wat ons meer kan sê nie. En, laat ons dit duidelik stel; wanneer ons die saak in die manier stel dan het ons nie die Kruis en genade verhoog nie, maar goedkoop gemaak. Ons het die versoening wat van toepassing is op God se skape het ons eintlik nog verder beperk, selfs meer as Calvinisme, waar Calvinisme verklaar dat Christus se dood as sulks, almal verlos wat dit bedoel was om te verlos, het ons nou ontken dat Christus se dood genoegsaam is om enigeen te verlos.
Vergelyk dit met Spurgeon: bl 14. Ons het met vleitaal onboetvaardige sondaars verseker dat dit in hulle mag is om te bekeer en te glo, omdat God hulle nie kan maak om dit te doen nie. Miskien het ons ook geloof en bekering as onbeduidend gemaak sodat dit versekering aanneemlik kan maak. Eenvoudig: “maak net jou hart oop vir die Here”. Verseker het ons effektief God se soewereiniteit ontken, in die basiese oortuiging van ons geloof geondermyn-dat die mens altyd in God se hand is. In der waarheid, het ons ʼn groot deel verloor. En dit is, miskien geen wonder dat ons prediking so min nederigeheid en eerbied kry nie, en dat ons belydende bekeerlinge so selfversekerd is en gebrekkig in self-kennis, en in die goeie werke wat die Skrif beskou as die vrug van ware bekering.
Die boek van Owen sal ons lei om neer te buig voor ʼn soewereine Verlosser Wat regtig verlos, en Hom alle eer gee dat vir al die vir wie Christus gesterf het sal verheerlik word. Dit kan nie oor benadruk word nie, dat ons nie die volle mening van die Kruisberg gesien het nie, totdat ons dit gesien het as die goddelikheid wat Dort dit vertoon want dit is-die kern van die evangelie, versterk aan die een kant by die totale onvermoë en onvoorwaardelike verkiesing, en op die ander kant deur onweerstaanbare genade en laastens volharding van die gelowiges. Want, die volle bedoeling van die Kruis verskyn slegs wanneer die versoening gedefinieer word in terme van hierdie vier waarhede. Christus het gesterwe om ʼn sekere groep van hulpelose sondaars te red waarop God, hulle vrye genade verlossing liefde geplaas het. Christus se dood het daardie roeping en bewaring verseker –die huidige en finale verlossing-van al die wat se sondes Christus gedra het. Dit is wat die KRUISBERG gemeen het en meen. Die Kruis red; die Kruis verlos. Dit is die hart van die ware Evangelie van geloof. Soos Cowper se gedig:
Dear dying Lamb, Thy precious blood
Shall never lose its power,
Till all the ransomed church of God
Be saved to sin no more.
Dit is die triomferende oortuiging waar onder die oue evangelie rus soos dit in die hele Nuwe Testament is.
Om die evangelie te preek van die oue, is nie ʼn saak van die lidmate net te vertel dat God sy liefde op elk een van hulle geplaas het nie en dat Christus gesterwe het om elk van hulle te red nie, want hierdie sekerheid, Bybels begryp, sal impliseer dat hulle almal volkome gered word, en dit kan nie geken word as waarheid nie. Die kennis van om die onderwerp te wees van God se ewige liefde en Christus se versoenende dood hoort tot die individu se sekerheid sien einde bl16.
Slot
The saints are preserved in Christ Jesus: and their salvation is not in their own keeping. Henry, kommentaar oor Joh. 10.
Joh 10:28 En Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.
Joh 10:29 My vader wat hulle aan My gegee het, is groter as almal; en niemand kan hulle uit die hand van my Vader ruk nie.
Die Vader het uitverkies en vir Jesus Christus gegee, Jesus het die wat die Vader vir Hom gegee het, verlos en versoen en die ewige lewe gegee en die Heilige Gees voer die wil van die Vader en die Seun uit deur ons te vernuwe, werk in ons om ons te leer, by te staan, en ons te seel en vir die ewige lewe te bewaar sodat niks ons kan verhinder om God se doelwit vir ons te verydel nie.
JI Packer se kommentaar oor John Owen se boek, The Death of Death in the Death of Christ. 1684
Deur: Nico Engelbrecht
*************************************
Re-posted and illustrated for The Love of His Truth by Grant Swart