YDELHEID: DIE EERSTE SONDE TEENOOR GOD

Grant Swart

Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs! (Prediker 1:2). Die Hebreeuse woord vir “ydelheid” word hier vertaal as “alles tevergeefs”, en beteken letterlik “damp” of “asem”. Dit kan ook as “betekenisloos”, “leegheid” of “nutteloosheid” vertaal word. Die prediker hierin is Koning Salomo, en hy vertel ons dat, nadat hy alles wat die wereld kan aanbied ondersoek het, hy bevind het dat dit alles betekenisloos is. Dit is nutteloos om wereldse doele na te jaag, want hulle verdwyn almal met ons laaste asem. Daardie grondslag help ons om te verstaan hoe die woord ydelheid op ander wyses in die Bybel gebruik word.

In die Griekse Bybelteks is die woord vir ydelheid “kenodoxia”, wat letterlik “leë heerlikheid” beteken. Dit beliggaam die oortuiging dat ‘n mens verdien om bewonder te word as gevolg van ‘n mens se vermeende voortreflike skoonheid, krag, status, talent of voorneme.

Romeine 8:20 sê dat die hele skepping aan nietigheid onderwerp is as gevolg van God se vloek. Toe Adam gesondig het, het God alles vervloek wat Hy gemaak het (Genesis 3:17–19). Met ander woorde, perfeksie het verlore gegaan. Ydelheid bring mee dat die mens daardie perfeksie self weer wil najaag. Die hele skepping skiet nou tekort aan sy oorspronklike doel; eerder as om in harmonie met God te werk, het bewoners van die aarde op mekaar en teen God gedraai. Ons steier steeds van die gevolge van daardie vloek. Alles wat bedoel was om reg en uitstekend te wees, is onderstebo. Die chaos en waansin van die wêreld soos ons dit ken, is te wyte aan die feit dat God die skepping aan nietigheid onderwerp het (Romeine 8:21).

Die ydele mens soek vervulling, erkenning, troos en trots in die sy eie fisiese, sigbare, tasbare, en ervaringsgerigte wereld van mammon. Ydelheid kruip stilletjies onder die vernederende invloed van materiele rykdom en persoonlike self-verbetering in. Niks wat die mens self doen, geen self-verbetering kan die mens se sondige toestand voor God verbeter nie. Slegs die perfekte sondelose Here Jesus in die gelowige, daar geplaas alleenlik deur God se genade, sal deur God erken word.

Wanneer ydelheid ons persoonlike lewens binnedring, bring dit trots, jaloesie, afguns, twis, hoogmoed en baie ander negatiewe dinge mee. Ydelheid devalueer wat belangrik is en blaas dit op wat onbenullig is, soos ‘n man wat voor ‘n spiel staan en homself kritiseer, evalueer en bewonder, wat eerder sy tyd aan God moes gewy het as aan sy ydelheid. Of soos ‘n vrou wat ure en soms dae in skoonheidsalonne en joga klasse spandeer, terwyl haar man, kinders of ander behoeftiges in die samelewing geensins daardeur baat nie. Die feit dat sy dit finansieël kan bekostig, is ook geen verskoning vir die ydelheid wat daarmee gepaard gaan nie.

Ydelheid is die rede waarom onredelike, suinige en gewetenlose leiers in die werksplek algemeen voorkom, en indien hulle ydele optrede sigbaar genoeg is vir die grootbase, en hulle mooi na die tromme van die mammon-orkes en aandeelhouers dans, sal hulle enorme bonusse en uiters hoë vergoeding verdien. Hul vinnige bevordering in die maatskappy en in die samelewing sal verseker wees, al trap hulle hoe hard op die drome en harde werk van hulle staf en medemens.

Ydelheid bring mee dat die weeshuise al hoe voller word, en dat daar so baie weduwees is wat uitgebuit en onversorgd is. Ydelheid bring mee dat politieke leiers, wat werklik niks vir hulle mense doen nie, enorme salarisse betaal word. Ydelheid bring mee dat daar kerkleiers en pastore is wat, nes daardie politici, niks vir God se kinders doen nie, die grootste en duurste kerkgeboue oprig en in weelde leef.

Ydelheid veroorsaak dat daardie pastore hulle rykdom toeskryf aan hulle sogenaamde groot geloof, en hulle verkondiging van die leuen dat die mens op hierdie aarde hul “beste lewe nou” kan lei. Dit alles terwyl Jesus en Sy volgelinge almal in armoede geleef het, verontagsaam hierdie valse predikers God se woord (Luk 12:33, 34) Verkoop julle besittings en gee aalmoese; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, ‘n skat in die hemel wat onuitputlik is, waar geen dief by kom of mot verteer nie. Want waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. Valse predikers word multimiljoenêrs deur om die valse lering uit te beeld dat die Almagtige God ‘n tipe vrolike Kersvader is, wie se primêre doel dit is om mense voorspoedig en gesond te maak en hul drome te bewaarheid. In voorspoedprediking is die mens—nie God nie—die ware stêr.

Ydelheid veroorsaak dat die mens soveel waarde aan homself skenk, dat hy die planeet en die natuur wat vir hom en vir sy gebruik geskep is, met soveel jaloesie probeer beskerm dat hy die skepping nou al aanbid. Die mitiese wese, “Moeder Natuur” is die verpersoonliking van die natuur as ‘n vrou wat as die bron en leidende krag van die skepping beskou word, word alom gebruik om na die skepping te verwys, terwyl die Almagtige Vader, die Here God, die Skepper, nie meer deur die oorgrote meerderheid aanvaar word nie. Net ‘n dwaas sal sê dat, terwyl hy wel vir Microsoft werk, hy Bill Gates nie as stigter aanvaar nie. Dieselfde dwaas sal erken dat hy water uit die kraan kry om te drink en homself te was, maar dat hy nie aanvaar dat die water, die reën as oorsprong het nie. (1Co 1:18) Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak. 

Humanisme is ‘n rasionalistiese uitkyk of denkstelsel wat die grootste belang heg aan menslike eerder as goddelike of bonatuurlike sake. Humanisme het alleen ydelheid as oorsprong, want die ongelowige mens wil voorgee dat hy beter is as God, dat God nie bestaan nie, en dat die mens se eie goeie dade van hom ‘n heiliger of beter mens maak. Humaniste glo nie dat daar ‘n God is wat ons beveel om sekere oortuigings te hê of om ons lewens op ‘n sekere manier te leef nie, en ons beloon of straf vir wat ons in hierdie lewe gedoen, of nie gedoen het, nie. Dink net bietjie aan ‘n paar van die bekende humaniste wat deur die wêreld geprys en verafgod word: Moeder Teresa, Charles Darwin, Stephen Hawking, Albert Einstein, Mahatma Gandhi, Nelson Mandela, Carl Sagan, Thomas Edison, Aristoteles, Abraham Lincoln, John Lennon, Walt Disney.

Maar die gelowige weet dat hierdie dinge moet gebeur, en dat God dit toelaat, deurdat hy die ydele mens verblind tot die waarheid: (Rom 1:25)  hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 

Ydelheid is die bron van die gevoel van belangrikheid, sukses en hoogmoed van die eienaar van die vinnigste en duurste motor in die parkeerterrein. Ydelheid bring mee dat die eienaar van ‘n mooi en duur huis, met die pragtigste tuin in die beste buurt, meer belangrik voel as die armste in hul sink-huisies. Ydelheid is die oorsaak dat die kinders van die ryk ouers die eerste span haal, al is hulle net gemiddelde spelers. Dis ook gereeld die rede waarom daardie selfde kinders soms hoofseuns en hoofmeisies word, en die top poste in maataskappye vul, want die grootste finasieele bydraes was deur die rykste, of invloedrykste ouers gemaak.

Ydelheid peper die gedagtes met senuweeagtige vrae: “Hoe lyk ek?” “Wat sal mense van my dink?” “Hoekom is ek nie vereer in plaas van hom nie?” Spreuke 16:18 waarsku dat “hoogmoed voor vernietiging gaan, en ’n hoogmoedige gees voor ’n val”, maar ydelheid luister selde na waarskuwings. Daar is altyd ‘n verskoning te bied deur die ydele mens, altyd ‘n humanistiese rede wat gesoek, en gekry, kan word. Maar dis nie vir God nie, en dis nie vir God se kinders nie.

‘n Persoon wat deur ydelheid verteer is, is self-geabsorbeerd en besig met sy of haar eie opinies, kwessies en begeertes. Aan die wortel van alle ydelheid is die self, wat eis om ten alle koste beskerm te word. Dit wat ons self is, kan nie ons lewens saam met die Heilige Gees regeer nie. God sal nie Sy troon deel nie. Dit is hoekom Jesus ons roep om aan onsself te sterf om Hom te volg, nie om onsself te verbeter, versterk of mooier te maak nie (Luk. 9:23). Ydelheid is ’n vyand van die Gees en moet voortdurend na die kruis gebring en gekruisig word (Galasiërs 2:20; Romeine 6:1–6).

Koning Saul het ydelheid sy lewe laat beheer totdat dit hom vernietig het. Opvallend aantreklik, begaafd en deur God uitverkies, het Saul die potensiaal gehad om ‘n wêreldveranderer te wees (1 Samuel 9:1–2). Saul was aanvanklik verneder dat hy God se uitverkore koning moes wees (1 Samuel 9:21, 10:21–22), en het gou ydelheid na sy kop laat gaan (1 Samuel 13:8–14). Sy ydelheid het besluit dat hy belangrik genoeg was om die opdrag van die Here te verontagsaam en dinge op sy eie manier te laat gebeur. As gevolg hiervan het God Sy seën en Sy Gees van Saul verwyder sodat die res van sy heerskappy geteister was met jaloesie, moord en tweedrag (1 Samuel 16:14; 18:10–11).

Ydelheid kan veroorsaak dat ons beïndruk raak met ons eie grootheid, prestasies of aantreklikheid. Onbeheersd gelaat, besluit ydelheid dat ons, soos Saul, belangrik genoeg is om God se opdragte te verontagsaam en dinge op ons eie manier te laat gebeur. Ons lees: “Jy mag nie . . .” in die Skrif, maar dink: “Dis vir ander mense.” As ons oor ons sonde gekonfronteer word, kry ons aanstoot vir die een wat ons konfronteer.

Die verdediging van ydelheid klink iets soos volg:

“Ek weet ek behoort nie X te doen nie, maar ek is regtig ‘n goeie mens.”

“Ek weet wat die Bybel sê, maar ek dink . . .”

“Ons het almal ons eie persoonlike waarheid. My waarheid is dat . . .”

“Daai is sommer ‘n ou storie, wat die ou kerk gebruik het om mense te beheer.”

“God is besig met ‘n nuwe ding, die wereld is besig om te verander”

Dan is daar natuurlik die wat daarvan hou om die teks van (1 Kor 6:19)  “Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie?” heeltemal buite konteks te gebruik in hul verdediging van hul ydelheid deur te sê dat, omdat hul liggame die tempel van die Heilige Gees is, dit hulle noodsaak om hul liggame so goed as moontlik te laat lyk, die gesondste kos te eet, of hul voorkoms so mooi te maak as moontlik, sodat ander hulle geloof kan aanskou. Hulle gebruik dieselfde argument om hul dra van die mees modieuse klere, of klere wat hul liggame beklemtoon en die beste ten toon stel, of die aankoop van hul duur voertuie of ander duur besittings, as bewys van God se goedgunstigheid teenoor hulle, te verdedig.

Nog nooit tevore in die geskiedenis was daar meer aanbiedinge en fokus op skoonheidsalonne, dieëtprogramme, oplossings vir gewigsverlies of gewigstoename, veranderende modes, allerhande produkte en besighede wat beloof om jou liggaam en jou lewe te verander, klem op “leefstyl” verandering, persoonlike afrigters en psigo-analiste, persoonlikheidsopleiding, selfs samelewings wat spesifieke maniere van praat aanneem, en wat praat oor sekere tendensonderwerpe, om hul ydelheid te voed. Nog nooit tevore in die geskiedenis was daar soveel valse predikers wat hierdie ydelhede bevorder nie.

Daar is selfs goddelose wette wat die mens se ydelheid beskerm, onder die vaandel van die beskerming van “mense regte”; as die gelowige die Bybel aanhaal word hy aangekla vir “haat-spraak” of “seksisme”. Valse gelowe en oortuigings word beskerm deur wette soos die wat “godsdienstige verdraagsaamheid” en “geslagsvryheid” bevorder. Ydelheid bring mee dat die mens wat ‘n valse geloof aanhang, verder verblind word deur God, en nie van daardie geloof afstand sal doen nie.

Daar is selfs ‘n groot persentasie mense op hierdie aarde wat voorgee dat hulle nie godsdienstig is nie, en dat hulle in “niks” glo nie. Minwetend dat hul ydelheid glad nie verskil daarvan om in ‘n valse god of geloof te glo nie. Bloot omdat hulle verkies om nie in God te glo nie, beteken nie dat God nie bestaan nie, maar eerder dat Hy nie toelaat dat hulle Hom sien of hoor nie (Joh.12:40) Hy het hulle oë verblind en hulle hart verhard, sodat hulle nie met die oë sou sien en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.

Ydelheid het ‘n hoof rol gespeel in die eerste sonde in die tuin van Eden, en dit is steeds die wortel van die meeste sonde vandag. Satan het ydelheid in stand gebring met die woorde: “Het God werklik gesê . . .?” (Genesis 3:1). Eva het gesien dat die verbode vrugte pragtig, smaaklik en aantreklik was, en ydelheid het in haar begin roer. Die begeerte na plesier en persoonlike bevordering het God in haar hart verplaas. Vandag nog vind sonde plaas wanneer ons toelaat dat ons eie opinies God se Woord troef. Wanneer ydelheid ons besluite en dade beinvloed, dan is God nie daarin nie. Wanneer God ons besluite en dade regeer, moet ydelheid weg.

Liggaamsbeeld en gesondheid is groot onderwerpe van bespreking in ons kultuur, en dit kan moeilik wees om te weet hoe om vir ons liggaam te sorg sonder om toe te laat dat dit ‘n afgod word. Dit is duidelik dat ons geroep is om vir ons fisiese liggame te sorg. Ons higiëne is vir God belangrik. Die Ou Testament is gevul met verwysings na handewas en voetewas, klere was, was voor ete, ens. Rituele wassings was om die mense te herinner dat hulle nie in God se teenwoordigheid mag kom sonder om die stof en vuilheid van die wêreld af te was nie. Was word in die Nuwe Testament gebruik om ‘n geestelike reiniging van sonde aan te dui wat slegs deur Christus beskikbaar is. Efesiërs 5:26 sê vir ons dat Christus die kerk gereinig het – almal wat in Hom glo vir redding – deur “met water te was deur die woord”.

Daar is ‘n lyn tussen higiëne en ydelheid wat maklik vervaag kan word, veral in ‘n kultuur wat so sterk gemotiveer word deur visuele skoonheid. Hoe bestuur ons ons liggame as tempels van die Heilige Gees sonder om ydel te word? Die belangrikste ding is om die toestand van die hart te monitor. As ons ons waarde sien in terme van fisiese skoonheid, mis ons die punt. Ons waarde lê in wat God vir ons gedoen het, wat ons innerlik van sonde reinig, en nie in hoeveel ons ons uiterlike reinig en verbeter nie. Ons harte weerspieël die persoon wat ons geword het—nuwe skeppings in Christus (2 Korintiërs 5:17).

Dit is belangrik om te onthou dat die mens na die uiterlike kyk, maar God kyk na die hart (1 Samuel 16:7). Spreuke 31:30 sê: “Bekoorlikheid is bedrieglik en skoonheid is vlugtig; maar ’n vrou wat die Here vrees, moet geloof word.

1 Timoteus 4:8 herinner ons: “Liggaamlike oefening is van een of ander waarde, maar godsaligheid het waarde vir alles, en hou belofte in vir beide die huidige lewe en die lewe wat kom.” Terselfdertyd waarsku die Bybel teen nietigheid (1 Samuel 16:7; Spreuke 31:30; 1 Petrus 3:3-4). Ons doel met oefening moet nie wees om die kwaliteit van ons liggame te verbeter sodat ander mense ons sal raaksien en bewonder nie.

Alhoewel die oorsaak van ydelheid en trots dieselfde is (ego-sentrisiteit), is die gevolge en manifestasies daarvan verskillend. Oor die algemeen verwys “ydelheid” na ‘n oormatige selfliefde en/of ‘n oormatige begeerte om deur ander geliefd, bewonder of erken te word. Daar bestaan vandag amper nie meer enige sportsoort waarin die deelnemers nie na hierdie erkenning smag nie. Sogenaamde sterre en kampioene word werklik wereldwyd verafgod en bewonder vir heeltemaal die verkeerde redes. As ydelheid ongeremd groei, poog ‘n mens om die sentrale fokus van aandag in ander se lewens te word. As dit toegelaat word om sy “vervulling” te bereik, lei dit tot ‘n selfafgodery wat God en familie vervang.

Sonde vind plaas wanneer ons toelaat dat ons eie opinies God se Woord troef. Wanneer ydelheid ons regeer, doen God dit nie. Wanneer God ons regeer, moet ydelheid weg, en die “ek en myself” moet sterf.

Dit stukkie wat hier volg, is nie ‘n Christelike storie nie, maar wel een uit Griekse mitologie, want selfs onder daardie valse geloof, het ydelheid die dood as gevolg gehad. Hierdie is ‘n baie verkorte veergawe van die verhaal, en dit kan nie beskou word as belangrike leesstof vir die Christen nie. Dit bied eenvoudig net ‘n humanistiese weergawe van die Christelike waarheid, waarin die straf vir ydelheid ook die doodsvonnis dra.

Narcissus was ‘n jagter in die Griekse mitologie, seun van die riviergod Cephissus en die nimf Liriope. Hy was ‘n baie pragtige jong man, en baie het op hom verlief geraak. Hy het hulle egter net minagting getoon. Die woord “narsisties” word dikwels gebruik om te verwys na iemand wat selfgesentreerd is of nie ophou om in die spieël te kyk nie. Hierdie woord kom van die antieke Griekse mite oor Narcissus, ‘n jongmens van ongelooflike skoonheid wat onversadigbaar verlief geraak het op sy beeld soos dit in die water weerspieël is. Die jong man is eendag na die Stygianrivier om bietjie af te koel. Hy het toe sy weerkaatsing in die water gesien en hy het verlief geraak daarop. Sy obsessie met sy eie skoonheid was so groot dat hy ophou eet en drink het, en net meer en meer daarna gekyk het.  Sy obsessie het aan waansin gegrens; Narcissus het so naby aan die water gekom dat hy uiteindelik in die water geval en verdrink het.

Narcissus kon volgens die standaarde van antieke Griekeland ‘n vol en deugsame lewe geleef het, maar hy het verkies om glorie te vind in sy eie refleksie en het dus tevergeefs alleen geleef en gesterf.

(Klink dit darem nie baie bekend nie, as mens kyk na al die skoonheids kompetisies, sport en rolprentsterre, en daarby ook die belangrikheid wat deesdae deur die ongelowige mensdom geheg word aan die grootste, sterkste en mooiste liggaam, kunsmatige liggaamsdele en plastiese gesigte. Foto’s wat hul van hulself neem net soos Narcissus sou gedoen het (selfies), vals beelde wat hulle van hulself publiseer op sosiaale media opsoek na ander se verwondering. Die voedsel waarop die ydelheid floreer is die aanbidding en ongekende vergoeding wat deur die wereldse mens geskenk word aan die wat die beste voorkoms het, die meeste geld het, die grootste mag het of die grootste invloed of meeste volgelinge het.

Almagtige God, help U kinders om die nuttelose en waardelose ydelheid en trots te oorkom, sodat hulle meer integriteit, onderskeidingsvermoë, eerlikheid, nederigheid en leerbaarheid kan hê, dat net U verheerlik sal word. Amen.

2 thoughts on “YDELHEID: DIE EERSTE SONDE TEENOOR GOD

    • Dear Tweedie,
      I will translate the article into English and post it, but it may take some time. Please be patient, my time is severely limited at the moment… 🙂

      Like

Leave a comment