Grant Swart
ʼn Oproep Tot Nugterheid Vir Diegene Van Die Wegraping
Ander name vir diegene is: die “Futuriste”, Literaliste. Hulle bevorder die teologie van Pre-millennialisme en Dispensasionalisme.
Die Basiese teologie is: Opraping of Wegraping, Die Groot Verdrukking, die wat die duisendjare vrederyk voorstaan, die wat glo die tempel gaan herbou word, die wat glo dat Israel weer sy ou Testamentiese grondgebied gaan terugkry, die wat glo dat daar twee maniere van Verlossing is – een vir die Jode en een vir die Kerk. Volgelinge van hierdie denkwyse is onderandere die dissipels van Darby, Schofield, Walvoord, Hagee, *[James H. Brookes, Dwight L. Moody, Hal Lindsay, Tim LaHaye, Lewis Sperry Chafer, Roger E. Olsen], Johan Malan, Johan Claasen, Dave Hunt en die meerderheid van oningeligte Christene.
Inleiding
Kom ons maak dit eenvoudig so dat die individu dit kan begryp, en nie teologiese debattering nie. Dit is ʼn redelike onlangse beweging, populêr gemaak deur die fiksie flieks van die “Rapture”. Dit was nie bekend by die vroëere Kerk nie. George Müller wat die Bybel meer as ʼn honderd keer deurgelees het, sê dat hy eerder van Darby, sy vriend, afskeid neem, as van die waarheid in sy Bybel. Die, kom ek noem hulle,: ‘Wegrapers,” lewer soveel goeie apologete en stryders teen Charismate Koningkryk-Nou Triomferende Teokratiese Postmillennialiste en Finansiële Welvaart Gesondheid en Voorspoed Teologie op, maar is openlik teenstanders van Gereformeerdheid en sy skriftuurlike sienswyses oor die wederkoms. Ongelukkig, na hulle soveel goeie werk doen, is daar een groot probleem wat nie Eer bring aan God nie, asook aan Christus se lyding op die kruis wat as nutteloos beskou sal word, gedurende hulle sogenaamde duisendjarige vrederyk soos ons sal sien.
Kerk leiers bly stil, teoloë en akademici spreek nie die Wegrapers aan nie. Hanteer hulle met handskoene. Dit is ʼn baie ernstige dwaallering met ernstige gevolge.
Algemene apologie uit ʼn ander benadering
Kom ons benader die dwaalleer eers vanuit ʼn logiese oogpunt om die drogrede en dwaalbegrip van die misleiding aan te spreek.
Die Versoeningsdaad van God vir die mens wat die doodstraf vir hulle oortredinge gekry het. “propitiation”
Volle God en volle Mens Jesus Christus onse Here se Offerhande, Sy lyding is ʼn volmaakte versoening, vir alle tye en vir alle volksgroepe. Let wel ek sê nie vir almal in alle volksgroepe nie. Ons weet dat nie almal gered gaan word nie, blykbaar is diegene in die minderheid soos die Woord openbaar. Maar sommige uit alle volke en nasies, op grond van slegs een manier en dit is alleen deur geloof in Jesus Christus alleen, deur genade alleen, tot eer van God alleen. Daar gaan nie ʼn rassisme soos ons dit ken, of voortrekkery by God nie, soos ons Sy handelinge sien met die Samaritane en die gelykenis van die Barmhartige Samaritaan om die rassistiese Jode aan die kaak te stel. Die Jode gaan nie by voorkeur behandel word nie; soos ons sal sien is daar nie Jood, Griek of Barbaar meer in Christus nie, almal is gelyk en moet op dieselfde manier tot bekering kom. Daar is dus nie spesiale gesalfdes of oogappels nie, maar net die Israel van God, die Gelowiges in Christus, die Kerk is nou die gesalfde. Kom ons lees en kyk verder.
Die Versoening
Die versoening van God deurmiddel van Jesus, sy enigste gebore Seun wat in ons plek verbrysel is, dit wat ons toekom, het God, die mens toegelaat om Hom as Mens afgryslike leed aan te doen, deur hom te martel, te verneder, bloed te giet, vas te spyker sodat Hy kan versmoor en sy wonde bloed uitgiet, wat alleen vergiffenis bring. Die woedende God se wraak op die sondige mens is versoen. Dit was nie net dat God die sonde vergewe het, of oorgesien het in liefde nie. Nee! God se wraak moes bevredig word om die mens te versoen, die mens moet gestraf word. Hy het Homself geoffer as volle Mens en volle God. Ons moet alles oordeel en interpreteer in die Lig van daardie offerhande op die Kruis.
Gedagte aan die laaste paragraaf kan ek net iets sê oor diegene wat die Wegraping en die herstel van die tempel en offerandes voorstaan in ʼn duisendjarige ryk. Hoe kan jy, nadat God hierdie daad gedoen het, vir eens en vir altyd, God weer laat toekyk in die sogenaamde vrederyk hoe daar dierlike offers gebring word wat net tydelik sonde verberg het? Hoe afgryslike denkwyse is dit nie, dat onse Here Jesus Christus na wat hy vermag het, gaan oorsig hou oor dierlike offers vir die mense wat die sogenaamde “Wegraping” verpas het en oorbly na groot verdrukking. Wat beteken dan Sy lyding aan die Kruis, niks in die Vrederyk nie. Word hulle sonde weer tydelik deur die diereoffers verberg gedurende daardie vrederyk van duisend jaar soos die premillennialiste sê? Of, word jy gered deur die prediking van wat Jesus al klaar vir hulle gedoen het, so gely het, so verbrysel is, sy bloed versoening gebring het vir hulle. Dan kan ek die vraag vra: Gaan jy Jesus weer laat sterf gedurende jou duisend jaar?
Nou is die vraag, hoe kom ons nou, in die tyd van die Kerk tot bekering? Deur die wet van Die Geloof (die werke van God in Christus). Hoe kom die Jood tot bekering? Op dieselfde manier sê die Skrif. Hoe het die Ou Testamentiese mense tot bekering gekom? Deur geloof in Christus wat sal kom en dit het hulle regverdig.
Kom ons dink ʼn bietjie verder, kom ons verbeel ons daar is ʼn geheime koms van Christus met die Wegraping, dan ʼn 7 jarige tydperk van onsaglike vervolging en verdrukking en daarna ʼn teokratiese vrederyk van ʼn duisend jaar. Kom ons verbeel ons soos die Wegrapers beweer dat die Heilige Gees het ook nou padgegee saam met die Kerk. Hoe kom jy tot bekering in die Groot Verdrukking? As vorige Christen in dieselfde donkerheid sonder die gees en waarheid het ons ʼn antwoord gehad. Jy neem nie die merk op jou voorkop nie, die 144 000 super Joodse evangeliste gaan die evangelie verkondig, of die Engele gaan deur die aarde en die evangelie verkondig volgens Openbaring 14. Kom ons kyk net kortliks na die 144 000. Op die webwerf www.reformedtruth.co.za beskryf dit skriftuurlik wat die beteken, maar daardie 144 000 is nie ʼn presiese getal nie dit is die simbool van die volledige aantal verlostes in Christus Jesus, die volmaakte groot menigte is dieselfde bekeerdes. Openbaring 14 beskryf ook dat die Engele verkondig nie die evangelie nie, maar die laaste oordeel, dit is nie in die groot verdrukking of die einde van die vrederyk wat dit beskryf nie maar die oes is ryp, dit is die oes van die ongelowiges wat in die poel van vuur gegooi word. Die kaf van die koring die bokke van die skape, daar is nie meer kans tot bekering nie. Dit is nou Ichabod. Ons gaan later net daarna kyk.
Hoe kom jy tot bekering in die Vrederyk?
Is Christus se bloed nog beskikbaar, of moet jy na in aardse Jerusalem toe gaan, na die nuwe tempel vir dierlike offers of uit vrees dat jy nie sal reën kry nie? Of moet jy na die vervulde Geestelike Jerusalem toe gaan, naamlik, Jesus die Christus. Is daar twee moontlikhede? Jy kan of jou skapie bring en dit offer vir jou sonde, of sal jy vir Jesus vra, wat daar is en toekyk hoe die offers gebring word en vir Sy kosbare bloed ʼn bietjie vra. Watter een vergewe vir ewig? Sien hoe belaglik is die Wegrapers, hulle moet so rondspring om hulle dwaalleer te verdedig en alles te antwoord dat hulle self nie meer weet wat is die waarheid nie.
Alle skaduwees, tipes, figure, simbole, is vervul in Jesus. Die tipe of figuur van die altaar, die skape wat geoffer was, die priester, die allerheiligste, die voorhangsel die tempel, is alles vervul, beëindig, in Jesus, onse tempel onse Jerusalem, hy het die voorhangsel geskeur en die weg geopen na die allerheiligste, hy was die Lam van God, hy was die finale priester. Ons kan nie in trurat gaan en weer die tipes en skaduwees herinstel nie.
Die aanteel van mense in die duisend jaar
Daar is so baie idees, sommige sê die Kerk gaan daarbo rondhang vir ʼn duisend jaar, ander sê ons kom en regeer saam met Christus oor die oorblywende mense wat weer in sonde aanteel op die aarde terwyl die verheerliktes toekyk. Kom ons kyk na Openbaring 14:19 En die engel het sy sekel oor die aarde laat gaan en die wingerdstok van die aarde afgeoes en dit gegooi in die groot parskuip van die grimmigheid van God. Die prediking van die Engele van die evangelie is nie vir redding nie maar die uitspraak van die ewige verderf, die oordeel is nou hier, te laat, die engele het gekom om te oes, die kaf van die koring te skei, die skape van die bokke. Openbaring 14 is nie gedurende ʼn sewejarige groot verdrukking nie maar beskryf die finale oordeel wanneer Jesus kom vir die Groot Wit troon oordeel.
Selfs die engele preek nie van Jesus se offer in Openbaring 14 nie want dit is te laat, dit spreek net van die uur van Oordeel. God gebruik nie engele om te preek nie maar die mens, die Engele bring oordeel. Die Einde van Hoofstuk 14 beskryf die einde van die wêreld wanneer dit te laat is om Christus aan te neem, die Engele is daar om te oes. Dit is nie nog ʼn kans om die evangelie aan te neem in ʼn sogenaamde tydperk van die groot verdrukking na ʼn wegraping nie, maar die tydperk net voor Jesus se Oordeel.
Dit is die mees godslasterlike denke denkbaar wat verkeerde teologie en waninterpretasie se drek opdis.
Skrif, wat sê die skrif?
Die skeidingsmuur is afgebreek in Christus, Nie Jood of Griek nie, net diegene bekleed met Christus geen rassisme of voortrekkery nie, die appel van God se oog, die gesalfde is nou die Kerk. Eph 2:14 Want Hy is ons vrede, Hy wat albei een gemaak en die middelmuur van skeiding afgebreek het
Geen Joodse staat, wegraping, ʼn sewejarige groot verdrukking nie maar wel groot verdrukking wat ʼn hoogtepunt bereik voor Jesus se finale koms om te oordeel die lewende en die dode. Die Jood se kans as onbereikte mense is nou, terwyl dit die tydperk van genade is, dringende evangelisasie en nie soos die Wegrapers dink daar is nog baie tyd vir hulle en dat die hele nasie op een slag gaan tot bekering kom nie. Hoekom sal die paar oorblywende Jode na ʼn sogenaamde Wegraping ʼn beter kans het om tot bekering te kom as die ses miljoen wat vermoor is deur Hitler. Die Wegrapers verhoed evangelisasie aan die Jode deur nie die Jode te affronteer met Jesus nie.
Die Here tegemoet in die lug.
1Th 4:17 Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.
Diegene Christene wat nog lewe by Jesus se wederkoms om te oordeel gaan wel die Here tegemoet by sy wederkoms in die lug, wat beteken ons liggame word op daardie oomblik verheerlik. Ons word nie weggeraap nie of opgeraap nie. Lees die Bybel, ons, die wat nog in lewende lywe is, gaan die Here tegemoet en bly saam met Hom vir altyd op hierdie nuwe aarde wat ook verheerlik en vernuwe gaan word.
Wat is Die Eerste Opstanding?
die wat wedergebore is en sterf gedurende die tydperk van die Ou Testamentiese kerk, die wat as martelare sterf en as gelowiges sterf gedurende die tydperk van die Kerk. Luk 16:23 En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.
Hulle wat gesterwe het, of ons wat intussen sterwe in Christus, is dan by Christus in gees en wag vir ons liggame om verenig te word by Sy wederkoms as diegene wat saam met Hom kom. Ook nie op ʼn fisiese wit perde nie, dit is weereens simbole.
Wat is die Tweede Opstanding?
Ons gaan dan ons liggame tegemoet wat uit die grafte opstaan. Dit is die tweede opstanding in liggaam, almal wat in Christus gesterf het. Die ander verlostes wat nog lewe met Christus se koms word verheerlik in hulle bestaande liggame, so gaan diegene Hom tegemoet in die lug. Wat ʼn hereniging! Die ander deel van die tweede opstanding is die ongelowiges wat sal opstaan vir die tweede dood en oordeel. Die oorblywende lewende ongehoorsame alle nasies insluitende Jode, sal die Engele bymekaar maak en laat verskyn voor die Groot Regter se Wit Troon. Wat ʼn Oordeel!
Die Kerk gaan nie soos die Wegrapers beweer, êrens in die lug gaan rondhang as tweede rang Christene, apart van die Jode nie.
Bid vir die Vrede van Jerusalem?
Tevergeefs bid ons vir iets wat alreeds plaasgevind het. Dit is vervul in Jesus wat vrede op aarde bewerk het met sy eerste koms as Mens. Mat 12:18 Kyk, my Kneg wat Ek uitverkies het, my Geliefde in wie my siel ‘n welbehae het! Ek sal my Gees op Hom lê, en Hy sal aan die nasies die reg aankondig Op die kruis het Hy vrede gemaak deur Sy offerhande. Dit is nie ʼn gebed vir Israel as nasie om vrede te hê met sy bure nie. Nooit sal dit gebeur nie, nie eers na die sogenaamde Wegraping of gedurende die sogenaamde duisendjarige vrederyk nie. Want dit is ʼn geestelike vrede van versoening in Jesus Christus, die geestelike tempel se herstel en die stad daarbo ons hemelse Jerusalem. Openbaring 21:22 “En ʼn tempel het ek nie daarin gesien nie, want die Here God, die Almagtige, is sy tempel, en die Lam”
Die betekenis van die figure, tipes, simbole en skaduwees
Dit is opmerklik dat dit nie altyd die eerste erfgenaam is wat die belofte kry nie. Nie die eerste Adam en sy nageslag nie, maar die Tweede Adam en Sy geestelike nageslag. Nie die eerste Israel nie maar die Seun Israel en sy geestelike nageslag wat al die beloftes kry. Nie die eerste grondgebied vir Israel nie maar die geestelike land Kanaän, die ewige lewe. Nie die stad Jerusalem of die Tempel nie maar die geestelike ewige tempel en nie weer ʼn tydelike tempel nie. Kom nou literaliste daar is iets soos die geestelike. Nie Abel nie maar Set, nie Ismael nie (Hagar, of Israel) maar Isak, Nie Esau nie maar Jakob. Nie vleeslike Israel nie maar die kinders van Abraham die geestelike besnyde van hart, die ware Israel, die tweede, die Kerk wat almal insluit sonder uitsondering.
Soos liggaam en siel moet ons die hemelse gesamentlik neem. Die aardse son en die Son van geregtigheid moet hulle beligting saam laat smelt, en elk die ander openbaar. Die waters van die historiese en die vervulde fonteine moet samevloeiend wees. Die Kerk moet gesien word in Israel, en Israel in die Kerk; Christus in die altaar, en die altaar in Christus; Christus in die lam, en die lam in Christus; Christus in die versoendeksel, en die versoendeksel in Christus; Christus in Die Woord, en Die Woord in Christus, die Lig van Jehova se majesteit.Joh. 1:9 Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld. (Die Woord het vlees geword, die Shekinah glorie, God teenwoordig, die openbaring van God) Ons moet nie die skaduwee skei van die wesenlikheid nie, die materiële van die geestelike, die sigbare van die onsigbare koninkryk van die hemele in al sy glorie. Wat God saamgevoeg het, laat geeneen dit skei nie. Die geestelike is die werklike, die vervulde, die letterlike en die tipe is nie die letterlike nie. Die literaliste maak hulle skuldig dat hulle sê die geestelike is die letterlike. Die skaduwee is vervul in Jesus Christus ons kan nie weer die skaduwee gebruik nie.
Kom ons kyk maar tog na sekere skrifgedeeltes in Openbaring in die lig van die vervulling en die simbole se betekenis.
Indeling van Openbaring.
Hou in gedagte dat Openbaring is geskryf vir die lydende kerk ten alle tye, groot verdrukking toe en groot verdrukking nou en wat nog gaan kom om ons te bemoedig dat God is in beheer, weet van onse lyding toe, nou en wat nog gaan kom. Hoe moed, Ek het die wêreld oorwin en sal seëvier.
Die hele Openbaring is in Sewe dele. Elk wat ʼn herhaling is van dieselfde tydperk van die Kerk, elke keer met meer informasie en progressiewe openbaring tot die klimaks waar die Satan en sy volgelinge in die poel van vuur gewerp word en nuwe aarde herskep word en daarna die ewigheid. Ons noem dit parallelisme. Dit is nie ʼn voorspelling, ʼn glasbol wat ons historiese gebeure kan sien en voorspel nie. Volgens Wegrapers moet alles van Hoofstuk 4 nog gebeur, volgens die Skrif het negentig % al gebeur. Al wat oorbly is verdere vervolging in ʼn groter mate waardeur die Kerk sal gaan en die finale koms en oordeel van Jesus Christus. Ons wag vir daardie basuin, die Wegrapers gaan ʼn stille verwydering tegemoet sonder enige basuine. Geheimsinnig gaan die Christen verdwyn, maar die onbeskryflike chaos daarna as jy by die huis kom en jou vrou en kinders is weg. In die kerk kan net jy alleen bly sit. Meeste skepe, treine, vliegtuie sit sonder bemanning, of loodse sonder passasiers almal op koers na ʼn dood. Dit gaan die vernietiging van die Twin Towers in New York na ʼn speletjie laat lyk.
Die fantasie van ʼn Wegraping is net so snaaks as die drogrede wat dit verkondig.
Lees Openbaring met die volgende kort skema saam en kyk hoe Openbaring vir jou nuut ontvou. Onthou elke deel vertel die Openbaring van die begin tot die einde, maar elke keer gee Johannes ons meer inligting tot die klimaks van die laaste deel.
1. Hoofstuk 1-3 verteenwoordig die kerke van alle tye. Die getal 7 is die volledige tydperk van die kerk, die kenmerke van toe en nou vir die kerk. Dit is nie sekere afgebakende historiese tye nie.
2. Hoofstuk 4-7 Hoofstuk 4 begin met: “ Ná hierdie dinge het ek gesien kyk,” Dit is nie ʼn nuwe tydperk wat net vir die Jode is nie. Die 7 Seels: Weereens ʼn volmaakte getal wat die volledige tydperk van die Kerk deur verdrukking van alle tye van die Kerk tydperk verteenwoordig in sy verdrukking tot by die einde wanneer Christus kom.
3. Hoofstuk 8-11. 7 Trompette: Weereens ʼn volmaakte getal en ʼn bietjie meer informasie van die einde. Die straf oor die ongelowige en beloning van die gelowige.
4. Hoofstuk 12-14. ʼn Intermezzo. Die openbaring van Christus se geboorte en die stryd om te verhoed dat die Verlosser sy verskyning maak. Die finale offerhande op die kruis en die oorwinning oor die Satan. Die vervolging van die kerk gaan voort met valse evangelies en die beloning en straf. Meer informasie en openbaring.
5. Hoofstuk 15-16. Die uitkeer van die 7 skale van die 7 plae van oordele. Weereens die volmaakte getal wat strek deur die hele tydperk van die Kerk. Dieselfde as die 7 Trompette se oordele, dieselfde tydperk van oordele regdeur die geskiedenis met meer openbaring.
6. Hoofstuk 17-19. Die beskrywing in meer detail van die oordele regdeur die geskiedenis. Die bestaan en val van wêreld sisteme en kultuur. Wat gebeur het en gaan gebeur sodat ons nie in vrees lewe nie maar in berusting dat te midde van verval en oordele is die teken dat God in beheer is en ons niks kan verloor in terme van ons saligheid nie en dat finale rekenskap gegee gaan word. Die koms van die Koning met oordele.
7. Hoofstuk 20-22. Die beskrywing van die hele tydperk van die kerk. Oordele oor almal, van die begin van Jesus se eerste koms en sy oorwinning op die kruis oor Satan en sy magte. Jesus se binding oor die Satan gedurende die tydperk van die kerk sodat hy niemand kan verhinder om na Christus toe te kom nie wat God aan Jesus gegee het nie. Dan hier word die hele prentjie, die teaterspel vir ons gewys. Die finale Groot Wit Troon oordeel, van die Satan en sy volgelinge in die poel van vuur gewerp. Die aarde word herstel en verewig met God, vir ewig by ons.
Simbole
Openbaring is niks anders as wat dit sê deur simbole nie. Dit is simbole, figure, tydperke van volmaaktheid en beteken nie letterlike diere, of geboue nie. Die stad uit die hemel wat Johannes sien is nie ʼn letterlike stad nie. Die strate is nie goud nie, die hekke is nie pêrels nie. Christene word verwag om dit letterlik te sien. Die simboliese interpretasie het nie eers verduideliking nodig nie. Die stad moet geestelik begryp word.
144 000
Is simbolies van die volmaakte aantal verlostes, dieselfde getal as die menigte met God se geestelike teken die besnede vlees, en nie ʼn merk op die voorhoof nie. Ook die merk van die Bees is ʼn geestelike merk van die mens, die ongelowige. Dit is nie op jou kredietkaart of onder jou vel nie.
2 getuienisse
Is eenvoudig; die Woord van God en die Kerk se Prediking van die evangelie.
Duisend jaar
Weereens ʼn simboliese getal van die tydperk van die Kerk. Nie ʼn letterlike tydperk nie.
Slot
Die onlangste ontstaan van die kultus van die Wegraping het gely tot ander kultusse soos die Jehova getuienis, Sewendaagse Adventiste en Christadelphianisme.
Die destruktiewe kultus vernietig Openbaring deur dit letterlik te sien. Dit is vir die Kerk geskryf en nie vir die herlewing van die Jode nie by die einde nie. Johannes was egter beveel om die brief vir die Sewe Kerke van Christus, van en in alle tye te skrywe.
Genade slegs genade, die wat ore het om te hoor, hoor.
********************************
Vir meer breedvoering skrywes hier oor. Sien die diagramme van die verskillende sienswyses www.reformedtruth.co.za
– Nico Engelbrecht
*Die artikel “Die Wegraping: Oproep Tot Nugterheid” oorspronklik deur Nico Engelbrecht
*[Name bygevoeg tot die oorspronklike artikel]
Aangesien ek glo dat ons daagliks geestelik moet groei, is ek heeltemal oop vir oortuiging en ook vir vermaning. Ek lewer my kommentaar dan ook met liefde en nie as aanval op die skrywer van die artikel nie. Die feit dat ek steeds ‘n “Wegraper” bly na die lees van die stuk verlang geen verdere kommunikasie nie. Wat ek wel wil beklemtoon is dat die sarkastiese styl waarop die skrywer sy punt wil bewys, nie as Christelike “teregwysing” geag kan word nie aangesien dit nie naaste liefde weerspieel nie. Ek respekteer die DIREKTE stel van standpunte waaroor mens verskil van ander maar daar is opbouende wyses waarop dit gedoen kan word. In die tweede plek het ek na die lees van die artikel ook daaraan gedink dat dit eintlik nie werklik saak maak of die wegraping wel ggan plaasvind al dan nie. Ons as gelowiges moet ten alle tye reg wees om ons plek saam Christus te verseker, ongeag hoe en wanneer God ons saam met Hom gaan laat wees. Broeder-groete, Gerhard Woest
LikeLike