AANKLAG VAN DIE MOEDSWILLIGES :
“Julle, Christene is nie konsekwent nie.”
So dikwels verskyn daar siniese opmerkings in die media wat neerkom op : “Julle Christene is inkonsekwent, julle veroordeel homoseksualiteit omdat dit in die Bybel verbied word, maar hoekom stenig julle nie ongehoorsame kinders nie? Dis mos ‘n bevel wat mens ook in die Bybel kry.” (Snaaks dat mense so lief is vir hierdie “steniging van kinders” argument – nou die dag sien ek ‘n ou gebruik dit om nie meer in die bestaan van ‘n hel te glo nie.) Of – “Hoekom eet julle skulpvis, daar is dan ‘n duidelike verbod daarop in dieselfde Bybel? Hoekom eerbiedig julle nie al die bevele in Levitikus nie? Julle pick en choosenet wat julle pas.”
Sulke uitlatings klink natuurlik vir oningeligte ateïste, skeptici, Skrifskenders en Kletskerk aanhangers baie oortuigend, maar enigiemand wat met nugterheid na die totale konteks van die Bybel kyk behoort geen probleem te ondervind om die kwaadwillige dwaasheid van hierdie tipe stellings raak te sien nie.
Kom ons probeer verduidelik. Die antwoord lê in kort in die heerlike, maar eenvoudige feit dat Jesus gekom het en die hoogtepunt van God se openbaring is. “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1)
Jesus het as Middelaar van ‘n beter Nuwe Verbond, die Ou Verbond met sy instellings en wette vervang. Waarom offer ons nie meer bulle, skape en bokke nie? Daar is mos duidelike voorskrifte hieroor? Vir elke evangeliese gelowige is die antwoord baie eenvoudig. (sien die hele Hebreërs 8-10) Jesus se offer van Homself aan die kruis was as finale offer algenoegsaam vir die kwytskelding van al ons sondeskuld en dit maak verdere bloedoffers totaal onnodig. “Maar Jesus Christus het één offer vir die sondes gebring… Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.” (Hebreërs 10:12-14) Trouens, enige bloedoffer sou vandag neerkom op ‘n miskenning van sy kruisdood.
Ja, maar wat van al die etiese opdragte soos die verbod op die veelbesproke skulpvis? Hoekom hou Christene deur al die eeue hierdie wette nie meer nie?
VERANDER, VERDIEP, VERSKERP, VERVUL
Jesus self het hierdie dinge duidelik kom verander. Hy het byvoorbeeld alle kos rein verklaar (Markus 7:19) en op ‘n ander keer direk teen die Ou Verbond se bepalings aan ‘n melaatse geraak (Markus 1:41) en hom genees. As Seun van God, wat groter as Moses is het Hy die gesag om dit te doen. In sommige gevalle het Hy die bepalings van die Ou Verbond verdiep en verskerp soos wat Hy gedoen het met die gebod dat jy nie mag egbreuk pleeg nie! (Matteus 5:27-30) In hoofsaak het Jesus nie die wet (tora) sommer net summier afgeskaf nie, maar Hy het dit vervul. Hy het dit nie weggegooi nie, maar aan die anderkant het Hy dit ook nie maar net onveranderd gehandhaaf nie. Jesus het alles tot hulle diepste en finale bedoeling gebring. Daarom kon Paulus sê dat iets soos die sabbat ‘n skaduwee (teken/heenwysing) na Christus was. (Kolossense 2:16,17) Die sabbat was ‘n tydelike wegwyser na Christus, maar noudat Hy gekom het, mag ons nie meer daarby vashaak nie. Die werklike saak waaroor dit gaan is Jesus Christus self en ons moet aan Hom alleen vashou!
Beteken dit dat Ou Testamentiese wette en veral ‘n boek soosLevitikus niks meer vir ons te sê het nie? Inderdaad bly dit deel van God se Woord en is daar steeds baie nut daarin om dit te bestudeer.Ons kyk egter daarna deur die bril van Christus se afgehandelde werk. Die groot grondbeginsels wat hierdie wette onderlê soos die heiligheid van God (vgl 1 Petr 1:16 met Lev 11:44,45 ens.), die opdrag tot liefde vir God en die naaste, die oproep tot God se mense om anders te wees te midde van ‘n korrupte heidendom ens. spreek nog steeds kragtig tot ons. Soms word opdragte van die Ou Verbond wel direk en onveranderd in die konteks van die Nuwe Verbond herhaal, soos : “Eer jou vader en jou moeder” (Efesiërs 6:2) In so ‘n geval weet ons dat dit presies net so op ons van toepassing bly. Die verbod op homoseksuele gedrag wat ons in Levitikus vind, val ook in hierdie kategorie, want die Nuwe Testament verklaar ook duidelik dat dit sonde is.* (Romeine 1:18-32; 1 Korintiërs 6:9-11)
DAAR BESTAAN DUS BAIE GOEIE REDES WAAROM DIE KERK STEEDS GLO DAT HOMOSEKSUALITEIT TEEN GOD SE BEDOELING MET DIE MENS INDRUIS, MAAR DAT DIE EET VAN KREEF NIE ‘N SONDE IS NIE.
En wat dan nou van die “steniging” van ongehoorsame kinders? God se volk, die kerk van Jesus, anders as onder die bedeling van die Ou Verbond vorm nie ‘n staatkundige en etniese eenheid wat burgerlike wette moet daarstel nie. God se volk is nou versprei in baie state en onder baie volke. Die beginsel van straf vir ongehoorsaamheid geld steeds, maar die Nuwe Testament bemoei hom nie met die voorskryf van burgerlike strawwe nie. Die Nuwe Testament lê die klem op die verkondiging van die evangelie, die eis tot bekering en die najaging van heiligmaking. Dis nou genadetyd, maar daar wag ‘n finale oordeel…
Alle oordele en strawwe in die Ou Testament is maar eintlik voorfilms van die finale afrekening wat by die wederkoms sal plaasvind!
O, en as jy gewonder het oor ‘n hel, ja daar is so iets, want Jesus het nogals baie en baie duidelik daaroor gepraat!
*****************************
Ons is dankbaar aan Johannes de Koning vir die oorspronklike skryf van hierdie artikel
*****************************
Hi Grant What language is this? I only read english. Thank you Perry Belleau
LikeLike
Perry
This article is in the Afrikaans language, one of the official languages of South Africa. It deals with the false charges which are laid against Christians by those who contentiously oppose the Word of God. Christian doctrine is commonly misunderstood and accused of being inconsequent or contradictory. This article proves the contrary to be true.
If you would like to read it in English, please inform me and I will translate it for you, as time allows.
LikeLiked by 1 person
Gaan lees Psalm 119 waar duidelik getoon word dat “die waarheid”, die wet is.
Nou…., elke keer as jy as christen praat oor die wet, vervang net die word waarheid in die word “wet” se plek en kyk of jou christen gesegde sin maak.
En onthou dat jy voor die Vader van elke word wat oor jou lippe kom, moet verantwoording doen.
Hier is ‘n voorbeeld,> kyk of dit vir jou as christen sin maak> “Ons is nie meer onder die waarheid nie, maar onder genade.”
Voorspoed.
Rob.
LikeLike
Rob
Dankie vir die kommentaar. Die argument wat daarin gemaak word is egter gegrond op ‘n valse veronderstelling en ‘n oorvereenvoudiging van die werkilkheid.
Eerstens, kan ‘n mens nie eenvoudig een woord met ‘n ander een vervang en dan voorstel dat die betekenis van die sin as gevolg daarvan verander het nie. Dit kan op geen manier voorgehou word as ‘n wettige argument nie, en dit is ook nie ‘n logiese benadering nie. Selfs op basiese beginnersvlak word redenasie van so ‘n aard gediskwalifiseer en ontslaan.
Tweedens, kan die woorde van iemand anders nie na willekeur gemanipuleer word om sodoende ‘n ander betekenis daaraan te verleen nie, en dan as feit voorgehou word dat dit die oorspronklike betekenis daarvan was nie.
Derdens, behoort dit duidelik te wees dat die een woord nie as plaasvervanger vir die ander kan dien nie, gebasseer op die bykomende feit dat dit, in hierdie geval, ‘n teenstrydige begrip meebring, wat nie voorheen bestaan het nie.
Ons weet dat ‘n vleuelklavier ‘n musiekinstrument is. Ons weet ook dat ‘n mondfluitjie ‘n musiekinstrument is. Albei is dus musiekinstrumente, alhoewel daar enorme verskille tussen die twee bestaan. Indien iemand ‘n geskrewe verklaring sou maak, waarin daar gestel word dat ‘n vleuelklavier uit die lug ‘n motor platgeval het, sou dit baie onredelik wees om oor te vertel dat dit ‘n mondfluitjie was wat die skade aan die motor gebring het.
Indien ‘n mens se begrip van die verskille tussen musiekinstrumente inkorrek is, en slegs gebasseer op die feit dat albei items musiekinstrumente is, kan die voorval totaal misverstaan word. Dit sal net so belaglik wees as om te voor te stel dat die woord “wet” in plek van die woord “waarheid” gebruik kan word in al die Bybelverse wat die woord/e bevat, gebasseer op ‘n wanbegrip van Psalm 119.
Vierdens, bevat die Woord van God geen teenstrydighede nie. Natuurlik is daar mense wat glo dat daar wel sulke teenstrydighede in die Bybel voorkom. Eienaardig aan daardie groep mense is dat hulle almal ongelowiges is. Die Woord van God weerspreek wel die leuens wat geglo word en die verwaande logika wat die mens gereeld toepas. 1 Kor 1 :18 vertel ons meer daaroor: “Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; want daar is geskrywe: Ek sal die wysheid van die wyse mense vernietig en die verstand van die verstandige mense tot niet maak.”
Vyfdens, verklaar Psalm 119 ook duidelik: “Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid”. Die gevolg is dat God se mense nie verandering aan die skrif, of aan die betekenis daarvan kan verander, en terselfdertyd die waarheid wat daarin bevat word behou nie.
Sesdens, neem ek aan dat jy na Rom 6:14-15 verwys waarin daar geskryf staan: “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade. Wat dan? Sal ons sonde doen, omdat ons nie onder die wet is nie maar onder die genade? Nee, stellig nie!”
Die woord wat gebruik word is “wet” in albei verse, en nie die woord “waarheid” nie. Die betekenis van Psalm 119 maak nie voorsiening daarvoor dat dit aanvaarbaar is om die twee woorde as plaasvervangers vir mekaar te gebruik nie. Die rede daarvoor behoort vir enige denkende debatvoerder duidelik te wees, gelowige of ongelowige, en daarom is dit sekerlik nie nodig dat ek daaroor hoef uit te brei nie.
LikeLike