Slaaf of kind?

broken-chain

Johannes de Koning

SLAAF OF KIND?

- die belangrike waarheid vir die verstaan van Christelike vryheid.

Is jy in jou verhouding met God ’n slaaf of ’n kind? Dis ‘n baie belangrike vraag waaroor Galasiërs 4:1-10 mens ernstig laat dink.

“1. Hierby wil ek nog dít sê: Solank ‘n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ‘n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom.

2. Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.

3. En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls.

4. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe

5. om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.

6. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader!

7. Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

8. Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode.

9. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?

10. Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier.”

freedom from slavery rope hands

Slaaf of kind?

Daar is ’n baie groot verskil. In destydse huishoudings was dit algemeen om slawe in die huis te hê. Hulle was eintlik maar deel van die huishouding en is soms ook selfs goed behandel. Maar tog is daar ‘n groot dieperliggende onderskeid. Wat is dan nou die verskil tussen ’n slaaf en ’n kind?

Die slaaf is net tydelik deel van die huis (hy kon enige dag verkoop word), ’n kind is permanent deel van die familie.

Die slaaf is vasgevang in ’n sisteem van pligte en reëls; die kind staan in ’n verhouding.

Die slaaf se waarde het net gelê in sy bruikbaarheid, dit wat hy kon doen; die waarde van ‘n kind kan nie gemeet word in geld of nuttigheid nie; dit gaan oor verwantskap! (Vir hoeveel verkoop mens ‘n kind?) Dit gaan oor onvoorwaardelike liefde!

Die slaaf moet die eienaar aanspreek as meneer of baas; die kind het die unieke voorreg om die eienaar, Vader, Pa of Pappa te noem!

Baie mense wat dink hulle is Christene is eintlik maar net (godsdiens) slawe!

Hulle is miskien amptelik deel van die kerk en godsdienstig bedrywig, maar het nog nooit verstaan of beleef wat dit is om kind van God te wees nie. Paulus skryf baie ernstig oor hierdie saak, want daar was mense in die Galasiese kerk wat weer wou terugkeer na ’n slawesisteem van wette. ( Mosaïse wette soos die besnydenis en die onderhouding van Joodse feesdae). Dit wys ons op ’n skrikwekkende moontlikheid : Selfs ook ware van kinders van God loop die risiko om terug te val in ’n slawementaliteit en die vreugde van hulle kindskap te verloor!*

boss vs leader

Is jy dalk ’n slaaf? (Toets dit bietjie)

’n Slaaf se lewe word gereguleer deur pligte en reëls, maar daar is min vreugde. Baie godsdienstiges is so. Jy probeer altyd om reg te leef, om in jou spore te trap, jy probeer die regte dinge doen… jy kom kerk toe, jy lees Bybel, jy bid, maar die blydskap in die Here is afwesig!

’n Slaaf word beheer deur vrees en onsekerheid, hy is gedurig bang dat hy ’n fout maak en gestraf word. So is baie se godsdiens : ek is onseker of God my liefhet, ek is onseker of Hy my vergewe het, ek is gevolglik bang vir die dood, bang vir die oordeel, bang vir die ewigheid! Ek kan nie regtig met vreugde en verwagting na die koms van Jesus uitsien nie, want sê nou ek maak dit nie regtig nie? Sê nou maar ek is nie goed genoeg nie?

Die slaaf ken net ’n werknemer-werkgewer verhouding, maar niks van ’n Pa-kind verhouding nie. Godsdiens is vir my ’n werk en nie ’n verhouding nie. Dis ’n swaar las van pligte wat my moedeloos maak en psigies uitmergel!

’n Baie goeie voorbeeld van ’n slaaf mentaliteit kry ons in die gelykenis van die Verlore seun, in die karakter van die oudste seun. Op die oog af het dit gelyk asof als reg is met hom : hy het nie weggeloop nie, hy het nie sy pa se geld op hoere geblaas nie, hy het al sy take en pligte uitgevoer… maar weet jy wat? Toe die Pa ’n fees hou vir die teruggekeerde seun toe kom daar ’n uitbarsting wat ’n nare geheim ontbloot : “Kyk al die jare werk ek soos ’n SLAAF vir Pa!” (Lukas 15:29) Wat sê dit? Daar was al die tyd ’n opgekropte bitterheid in hierdie seun. Hy was binne die vaderhuis, hy het nooit weggeloop nie, maar ook hy het geen verhouding met sy Pa gehad nie. Hy was maar nes ’n slaaf, uiterlik hou hy die reëls van die huis, maar binne geen liefde en verstandhouding met sy pa nie! (Kyk verder hieroor deur te kliek op DIE VERLORE SEUN 2)

My vriend, dink mooi : Jy is godsdienstig, dalk ernstig godsdienstig, maar is jy werklik ’n kind, of is jy net ’n slaaf?

freedom from slavery rope hands

Hoe word mens ’n kind?

Wel, dis juis hoekom God sy Seun Jesus as mens gestuur het. (4) Kyk, ons is almal slawe van nature. Ons staan onder God se wette en omdat ons sondig is, breek ons daardie wette. Dit kla ons gewete aan, dit veroordeel ons, dit verskrik ons want ons weet ons verdien straf! En dis hoekom Jesus as mens gekom het, ook as mens onder die wet. Maar Hy het ons losgekoop van die wet. (5) Hoe het Hy dit gedoen? Hy het dit op twee maniere gedoen:

~Hy het die wet namens ons, in ons plek volmaak gehoorsaam. Daarom, as ek Jesus aanvaar, dan word ek ook beskou as iemand wat die wet volmaak hou. (Ek is mos in Christus!)

~Maar Jesus het nog verder gegaan. Hy het die straf wat die wet vir ons voorgeskryf het, in ons plek gevat. (Jesaja 53:5,6) Die straf wat die wet vereis vir die sonde is die dood. Jesus het my sonde op Hom gevat en gesterwe in my plek. Die wet, om dit so te stel is nou tevrede, die straf is voltrek. Wie Jesus aanvaar het, kan beslis weet, my eie persoonlike sondes is klaar gestraf. Ek hoef nie meer in vrees en onsekerheid te leef nie, ek kan nou as ’n kind leef in die Vaderhuis.

Die basis van ons vryheid as kind van God is geleë in die radikale feit van ons vryspraak (regverdiging).

God hou niks meer teen ons nie, in Jesus het Hy ons volkome aanvaar en ons verhouding met Hom is nie op enige manier afhanklik van ons prestasies nie! Ons kan Hom nou net voluit liefhê.

Omdat Jesus die prys betaal het, word elkeen wat op Hom vertrou as God se kinders aangeneem! En God gee ons ’n baie duidelike bewys van kindskap in ons harte! Wat is dit?

Die Heilige Gees, die Gees van Jesus woon in ons harte en bring ’n innige verhouding tot stand met ons Vader. Ons kan nou werklik vir God sê : “Vader, Pa” Hierdie waarheid word so duidelik gestel in Romeine 8:15 : “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.”

Nie meer slawe wat vrees nie, maar kinders wat liefhet!

Hierdie verhouding tussen my en God as my Vader reguleer nou my lewe en vorm die basis van my Christelike vryheid!

broken-chain

Prakties beteken dit: Ek lewe nou ’n heilige lewe, nie bloot omdat ek bang is vir reëls en straf nie, maar omdat ek my Vader wil eer en liefhê! Ek gaan gereeld kerktoe, nie omdat dit ’n harde wet is nie, maar omdat ek hier my Vader se woorde en teenwoordigheid geniet. Ek lees nou die Bybel nie as bloot ’n dorre plig nie, maar ek wil graag die stem van my Vader hoor. Ja, die kind hou hom nog by reëls, en daar is ook vir kinders pligte. Maar die hele motief, die hele verhouding is iets anders!

Is godsdiens vir jou hierdie dorre sware plig? Heel moontlik is jy net ’n slaaf? Heel moontlik het jy nog nooit verstaan wat Jesus kom doen het nie, heel moontlik het jy nog nooit die volle verlossing wat Jesus bewerk het verstaan of aanvaar nie!

Dis net ‘n kind van God wat waarlik die vreugde van Christelike vryheid kan smaak, maar natuurlik ook die groot verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan moet hanteer! Om vry te wees en uit ‘n vrywillige hart my Vader te dien en te gehoorsaam, sonder om daardie vryheid te misbruik en so my Vader te ontstel en my medemens te benadeel. Hieroor is Paulus baie duidelik :

“Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. “Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Galasiërs 5:13-16)

Die radikale vryheid van die Christen, maar ook die radikale liefdesdiens wat hieruit voortvloei is so treffend deur Martin Luther saamgevat : “‘n Christen is die mees vrye heer oor alle dinge, aan niemand onderworpe nie; ‘n Christen is die mees diensvaardige kneg, aan almal onderworpe.” Hierdie oënskynlike teenstrydigheid word immers deur Paulus self as volg geformuleer: “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.” (1 Korintiërs 9:19)

Die kind van God moet sy vryheid uitleef onder die voortdurende leiding van die Heilige Gees, anders kan dit so maklik ontspoor deurdat ons toegee aan ons sondige begeertes!

broken-chain

PRAKTIESE RIGLYNE VIR CHRISTELIKE VRYHEID

My Christelike vryheid sal ek uitleef met die volgende sake in gedagte (Kyk veral na 1 Korintiërs 6 :12-20 en 8) :

Is hierdie ding wat ek wil doen bevorderlik en heilsaam vir my verhouding met die Vader en tot sy eer? Ek kan dalk redeneer, “dit is geoorloof”, maar is dit vir my nuttig?

Getuig my optrede van die bewustheid dat my liggaam nou ‘n woonplek (tempel) is van die Heilige Gees?

Hou my keuses rekening met die feit dat ek as hele mens (liggaam en siel) losgekoop is deur Jesus Christus en dus nie meer aan myself nie maar aan Hom behoort? (meer hieroor by VREEMDE VRYERS) Is my besluite ‘n weerspieëling van dankbaarheid hieroor?

Hoe raak my besluite ander swakker Christene? Gaan dit hulle benadeel of laat struikel?

Die maatstaf van my vryheid as kind sal wees liefde tot my Vader en liefde vir sy kinders!

Die praktyke van die sondige natuur druis baie duidelik teen hierdie liefde in (Galasiërs 5 :19-21), terwyl die vrugte wat die Heilige Geesin God se kind voortbring (Galasiërs 5:22) duidelik die stempel van liefde dra. Dit vervul dan ook die oorspronklike bedoeling van die wet.

Die kind van God bevind himself in ‘n opwindende verhouding : Die Vader het ons al ons skuld vergewe en gee vir ons die heerlike geleentheid om Hom vrywillig lief te hê!

Hoekom langer ’n slaaf wees? Aanvaar heelhartig die versoening van Jesus en word ’n kind! Kindwees, open ’n nuwe toekoms! As jy kind is wag daar vir jou ’n heerlike ewige toekoms!

****************************

tsumeb 1

Johannes de Koning se blog:

http://skattegemynuitgodsewoordintsumeb.blogspot.com/

About these ads

6 thoughts on “Slaaf of kind?

  1. Dit is ‘n baie goeie artikel maar miskien net ‘n paar kant aantekeninge:
    Rom 1:1 Paulus, ‘n dienskneg van Jesus Christus, ‘n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God—
    Php 1:1 Paulus en Timótheüs, diensknegte van Jesus Christus, aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filíppi is, saam met die opsieners en diakens….. en vele meer.
    Ons is geroep as diensknegte (slawe) van Jesus en mekaar, gered deur genade en nie deur reels na te kom nie. Die “reels” bestaan steeds . Mens kan nie die wet (reels) oortree omdat ons nie “onder die wet” is nie.
    Wat werke betref, sal ons op grond van ons werke beoordeel word – nie omdat werke verlossing bring nie, maar omdat werke die uitwerking en bewys is van geloof in Christus.
    Die verskil le miskien daarin dat die “slaaf” in hierdie artikel verwys na ‘n godsdiens gebou op werke as regverdiging eerder as gewillige slaaf van Jesus en my medemens?
    Die aanhaling
    “Daarom, as ek Jesus aanvaar, dan word ek ook beskou as iemand wat die wet volmaak hou. (Ek is mos in Christus!)” verskil eintlik so bietjie van die Bybel
    – 1Jn 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.
    Barnes spreek dit so aan: To meet these, and all similar cases, the apostle affirms that it is a great elementary truth, which on no pretence is to be denied, that we are all sinners. We are at all times, and in all circumstances, to admit the painful and humiliating truth that we are transgressors of the law of God, and that we need, even in our best services, the cleansing of the blood of Jesus.

    • Dankie vir die kommentaar. Ek reaggeer kortliks op van die punte daarin:

      Mens kan nie die wet (reels) oortree omdat ons nie “onder die wet” is nie.

      Verlossing weerhou ons nie om die reels te oortree nie, en ons sal aanhou om sonde te pleeg ten spyte van daardie verlossing. Ons sal vir ewig sondaars wees as gevolg van die sondeval, dus al kon ons binne die bepalings van die wet bly, dit geensins sou kon bygedra het tot ons heiligmaking nie. Alleenlik Christus in ons is sondeloos, en Sy geregtigheid is wat die Vader beskou. Deur om die reels en wette na te kom deur middel van ons eie vermoeens, is van absoluut geen waarde voor ‘n Heilige God nie.

      Wat werke betref, sal ons op grond van ons werke beoordeel word

      Jesus het betaal vir al ons sondes. Daardie perfekte geregtigheid is aan alle gelowiges oorgedra. Jesus is reeds beoordeel namens die gelowiges, hoe kan die gelowige dan verder bydra tot die Perfekte offer van Sy Bloed namens ons sondes? Die gelowige kan hoegenaamd nie dit doen nie. Gelowiges word nie weer beoordeel om te bewys dat hulle geloof gehad het nie, of om volgens die waarde van hul werke sekere belonings ontvang nie. God het nie bewyse nodig nie. Sy Seun is genoegsame bewys.

      Gelowiges sal slegs op grond van die werke wat as gevolg van die teenwoordigheid van Christus in hulle gedoen is, voor Sy troon, en op die laaste dag, beloon,word. As ons op grond van ons werke beoordeel moet word, sal daar nie ‘n enkele mens die hemel betree nie. Nee, die gelowige kan slegs beoordeel en beloon word op grond van Jesus se werk in die gelowige.

      1Jn 1:8 As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie.

      ‘n Ware gelowige kan nie met eerlikheid se dat hy sondeloos is nie, slegs die gelowige kan erken dat hy ‘n sondaar is, en dat hy juis nie vir sy sondes kan vergoed nie. Dit is die werk van die Heilge Gees om die sondaar te oortuig van sy sondige en totaal verlore toestand. Daarom die grootste wonderwerk van die Verlosser in die geredde sondaar, en die beloning van die ewige lewe.

      Ons bly vir ewig sondaars, maar God beskou die gelowige as heilig as gevolg van die teenwoordigheid van Sy Seun in die ware gelowige. Die gelowige het verskuif vanaf ‘n slaaf van die sonde na ‘n kind van God. Geen slaaf is vry nie, en Jesus het alle slawe vrygekoop, nie om hulle terug te plaas onder die wet nie, en nie sodat hulle weer vir hul sondes en tekortkominge beoordeel sal word nie.

      Die eerste opstanding bied vir die wat wedergebore is deur die Gees van God, die volledige vergifnis vir sonde, nie gedeeltelik nie, en ook nie net vir die voormalige sondes nie, maar ook vir toekomstige sondes. Die mag van die sonde word deur die Bloed vernietig, die dood word ook daarmee saam vernietig, en gelowiges word die reg toegeein om van slawe af te beweeg na kinders van God, geklee in Sy Perfekte geregtigheid. Open 5:9-10 Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

      ‘n Slaaf kan nie iets verdien nie, ‘n slaaf word nie beloon vir sy werk nie, ‘n slaaf kan nie ‘n erfgenaam wees nie, maar ‘n kind kan wel al hierdie dinge ontvang.

      Tit 3:7 sodat ons, geregverdig deur sy genade, erfgename kan word ooreenkomstig die hoop van die ewige lewe.

      Gal 4:5 om die wat onder die wet was, los te koop, sodat ons die aanneming tot kinders kan ontvang.

      Eph 1:5 deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus, na die welbehae van sy wil,

      Rom 8:15-17 Want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!
      Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is;
      en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.

      • Hallo Grant.
        Net vinnig die volgende:

        “Deur om die reels en wette na te kom deur middel van ons eie vermoeens, is van absoluut geen waarde voor ‘n Heilige God nie.”

        Ons stem dus saam dat
        1. Die wet steeds bestaan (sonde is oortreding van die wet), maar ons word nie deur onderhouding van die wet gered nie.
        2. Ons het steeds sondige natuur en doen voortdurend sonde.

        Ons verskil dat deur reels en wette na te kom (gehoorsaam aan die wet te wees) geen waarde het nie. Die probleem wat ek waarneem is dat daar ‘n gebrek by baie bestaan om heiligheid na te streef omdat werke volgens hierdie argument geen waarde het nie. Dit sou dan teenstrydig wees met o.m. direkte opdrag van Christus:
        • Joh 14:15 As julle My liefhet, bewaar my gebooie.
        • Rev 2:5 Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke.
        En verder
        • “1Pe 1:15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig word,
        • 1Pe 1:16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig. (sien Lev 11:45 Want Ek is die HERE wat julle uit Egipteland laat optrek het om julle God te wees. So moet julle dan heilig wees, omdat Ek heilig is.)

        Wat werke betref, is dit redelik duidelik dat geloof sonder werke dood is, en weerspreek Paulus en Jakobus nie mekaar as Jakobus se:
        Jas 2:24 Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie
        Matthew Henry maak die volgende aanmerking:
        We see then, Jam_2:24, how that by works a man is justified, not by a bare opinion or profession, or believing without obeying; but by having such faith as produces good works. And to have to deny his own reason, affections, and interests, is an action fit to try a believer. Observe here, the wonderful power of faith in changing sinners.

      • Hullo Andre

        Die probleem wat ek waarneem is dat daar ‘n gebrek by baie bestaan om heiligheid na te streef omdat werke volgens hierdie argument geen waarde het nie. Dit sou dan teenstrydig wees met o.m. direkte opdrag van Christus:

        Die mens kan nie heiligmaking nastreef nie, al is dit natuurlik dat die mens altyd geneig is tot godsdienstige werke. Die heiligmaking wat deur God bewerk word in die gelowige, is van ewige en uiterste belang, Ons stem saam oor die feit dat die mens sal aanhou sondig en dat sy sondige natuur ook sal voort duur, dus is dit nie moontlik dat dit wat ‘n sondige natuur het enigsins kan bydrae tot heiligmaking nie. Om klem daarop te le dat die mens heiligmaking moet nastreef, is om die perfekte heiligmakingswerk van God in die sondaar te verstoot en ontken.

        Joh 14:15 As julle My liefhet, bewaar my gebooie.

        Jesus se opdrag hier het nie met ons heiligmaking te doen nie, maar wel met ons liefde vir Hom. M.a.w. dit kon gelees het: “Bewaar my gebooie, nie om heiligmaking na te streef nie, maar omdat julle my liefhet”. Weereens, dit is ‘n ernstige dwaling om te glo dat die mens deur sy eie vermoeens of pogings enigsins kan bydra tot sy eie heiligmaking. Dit is alleen God se werk in die gelowige wat heiligmaking meebring, en God kry dus daarvoor al die Glorie.

        Rev 2:5 Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke.

        Die eerste werke. Weereens het hierdie opdrag niks met heiligmaking te doen nie, maar wel met ons liefde vir Jesus, die oorsprong van ons geloof. Om Jesus life te he soos toe Hy ons geroep het en ons Sy stem vir die eerste keer gehoor het, so is die eerste werke.

        “1Pe 1:15 Maar soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in jul hele lewenswandel heilig
        1Pe 1:16 omdat daar geskrywe is: Wees heilig, want Ek is heilig.

        Die ESV Bybel lees soos volg, wat duidelik ‘n ander boodskap lewer. So lees die KJV Bybel ook. Hieruit is dit duidelik dat God se woord se dat ons heilig SAL wees, nie dat ons heilig moet word deur om heiligmaking na te streef nie. (v16b) “You shall be holy, for I am holy.”

        1Pe 1:15 but as he who called you is holy, you also be holy in all your conduct,
        1Pe 1:16 since it is written, “You shall be holy, for I am holy.” – ESV

        Gill se kommentaar daarop:
        “..which respects not internal holiness, but supposes it; for that is God’s work, and not the creature’s act; it is the sanctification of the Spirit, of which he is the author; this they were chosen unto from the beginning, and made partakers of in regeneration; but external holiness, holiness of life and conversation, in all the parts and branches of it,..”

        Wat werke betref, is dit redelik duidelik dat geloof sonder werke dood is, en weerspreek Paulus en Jakobus nie mekaar as Jakobus se:
        Jas 2:24 Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie

        Geloof sonder werke is dood, dit is wel wat die Woord lees. Ja, Paulus en Jakobus praat oor presies dieselfde ding. Die werke van die mens is alles sondig, dit kan nie heiligmaking meebring nie. Daarteenoor, is die werke van God in die gelowige perfek heilig, en dit, saam met geloof, tel as bewys van heiligmaking wat reeds deur God bewerkstellig is, in die lewe van die geredde sondaar.

        Net een versie later, praat Jakobus van die hoer, Ragab, in Jas 2:25. “En is Ragab, die hoer, nie ook net so geregverdig uit die werke toe sy die boodskappers ontvang en met ‘n ander pad weggestuur het nie?” Sekerlik sou haar eie sondige werke nie dit wees waarna hier verwys word nie, maar wel die werke van God in haar, waardeur sy geregverdig was?

      • Met betrekking tot slaaf, is ek gewilliglik slaaf van Christus in ooreenstemming met Paulus en ander wat se:
        Rom 1:1 Paulus, ‘n dienskneg van Jesus Christus, ‘n geroepe apostel, afgesonder tot die evangelie van God—
        Php 1:1 Paulus en Timótheüs, diensknegte van Jesus Christus, aan al die heiliges in Christus Jesus wat in Filíppi is, saam met die opsieners en diakens:
        2Pe 1:1 Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus,

        Dienskneg = doulos
        From G1210; a slave (literally or figuratively, involuntarily or voluntarily; frequently therefore in a qualified sense of subjection or subserviency): – bond (-man), servant.

        Is jy nie gewillig om ook slaaf van Jesus te wees nie?

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s